
’n Bejaarde egpaar wat naby Trompsburg geboer het, en Sondagmiddag (9 September 2012) nog by hul seun en skoondogter gekuier het, is dood in hul huis aangetref. Mnr. Johan Fourie en sy vrou, Cecile, het albei skietwonde gehad.
Luidens ’n berig in Volksblad het die egpaar rondom 15:00 van die dorp af na hul plaas Knoppe teruggekeer. Wapens is glo uit ’n kluis gesteel. Die kluis was volgens die berig oopgebreek.
Ingewag
Die aanvallers het die egpaar na bewering ingewag. Kapt. Harry Nagel, polisiewoordvoerder, sê die verdagtes het vermoedelik deur ’n badkamervenster toegang tot die huis verkry.
Die Fouries was deel van ’n gemeenskapsveiligheidsinisiatief. Boere in die distrik roep elke aand op ’n spesifieke tyd oor ’n radiostelsel in om seker te maak almal is veilig. Van die boere wat deel is van die inisiatief het gaan ondersoek instel nadat die egpaar nie gereageer het op die gewone roeptyd op telefoonoproepe nie, en het op hul liggame afgekom.
Nagel sê twee moordsake word ondersoek.
Bron: Volksblad