
’n Bejaarde vrou is die afgelope naweek op ’n plaas in KwaZulu-Natal aangerand en beroof terwyl haar man dorp toe is. Mev. Dawn McGowan (82) het die deur van die huis op die plaas by Ngome waar sy en haar man, Rodney, woon vir die twee aanvallers oopgemaak nadat hulle hulle as bure voorgedoen het.
Kol. Thembeka Mbele, polisiewoordvooerder, sê die voorval het op Saterdag 3 Desember plaasgevind. Die aanvallers het haar oorrompel en geld geëis. Sy is na buite gesleep waar sy geskop is tot sy bewusteloos was, berig The Witness. Hierna het die twee booswigte die huis deursoek vir waardevolle goedere.
McGowan is na ’n nabygeleë hospitaal geneem en vir haar beserings behandel. Sy het kneusings oor haar hele lyf. Daar was baie bloed van die slaapkamers tot in die sitkamer, waar sy vir dood agtergelaat is. Sy is Maandag ontslaan en verduur volgens The Witness steeds baie pyn.
Volgens Mbele is ’n TV, ’n kamera en ’n kapmes gesteel. ’n Saak van huisroof is by die Greytown-polisiekantoor geopen.
Veiligheidskenners waarsku dat voorvalle van roof en aanvalle op maklike teikens, soos bejaardes, in Desember kan toeneem. Volgens mnr. Herman de Wet, voorsitter van TLU SA in KwaZulu-Natal, is werkloosheid baie hoog in die distriksmunisipaliteit uMzinyathi, wat Greytown insluit. Dit is ’n bydraende faktor in plaasaanvalle. “Dis baie kommerwekkend vir ons dat ál meer bejaarde en weerlose mense slagoffers word. Dis duidelik dat hulle dopgehou en aangeval word omdat die misdadigers glo dat hulle minder weerstand sal bied.”
De Wet sê in Rorke’s Drift waar hy woon, was daar die afgelope maand verskeie voorvalle waar veral swart boere en bejaarde mense deur booswigte aangeval is. “Pensioenarisse wat hul maandelikes toelaes ontvang, word maand ná maand beroof. Die polisie in landelike gebiede sukkel steeds om voertuie te laat herstel, daar is nie genoeg mannekrag nie en wetteloosheid gedy.”