
Drie mans het ’n 68-jarige mnr. Frans van Dyk en sy 65-jarige vrou, Susan, die afgelope naweek op die plaas Dankbaar naby Rosendal in die Oos-Vrystaat aangeval. Die egpaar is herhaaldelik met ’n graaf geslaan. Die verdagtes het wapens en kontant van hulle geeïs.
Me. Nanda Hefer, die Van Dyks se dogter, het aan Volksblad vertel Susan se arm is gebreek soos wat sy die houe van die graaf probeer afweer het. Sy het later gemaak of sy dood is sodat die aanvallers haar nie meer sal slaan nie. Frans en Susan het veelvuldige kopbeserings opgedoen.
Die voorval
Die voorval het plaasgevind toe Van Dyk Saterdagaand (20 Oktober 2012) hul Duitse herdershond, Ditmar, omstreeks 19:30 buitentoe geneem het. Die rowers het oor die plaashuiswerf se hek gespring en hom aangeval deur hom herhaaldelik met die graaf te slaan. Sy hande is met elektriese kabels vasgebind en hy is geblinddoek.
Van Dyk is die huis ingedwing waar hulle hom gedreig het om wapens en geld aan hulle te gee. Hy het die mans gesmeek om hom nie te skiet nie, en een van die aanvallers het ’n skoot verby hom geskiet.
“Hulle het my kop ingeslaan. Hulle wou weet waar is die geld. Ek het vir hulle gesê ek is ’n pensioentrekker, hier is nie geld nie. Hulle het my toe geskop,” vertel Susan.
Ná die aanvallers met gewere, kontant en ’n bankkaart gevlug het, het Van Dyk sowat ’n kilometer na die plaaswerkers se huise gestap waar die Polisie gekontak is. Nog niemand is in verband met die aanval aangekeer nie. Die egpaar word in ’n plaaslike hospitaal behandel.
Bron: Volksblad