Nadat daar aanvanklik teen 14 Maart ’n aankondiging sou wees, het me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, oor die naweek die gebied oos van die R66-pad en noord van die Mfolozi-rivier in KwaZulu-Natal as ’n bek-en-klouseer beheerde gebied afgekondig.
Sy het Saterdag in ’n verklaring gesê 14 padblokkades op paaie uit die beheerde gebied sal deur provinsiale wetstoepassers opgestel word om die beweging van gesplete hoefdiere vanuit en ná die gebied te verhoed.
’n Omliggende beskermde gebied, wat strek tussen die N2 in die noorde, N1 in die weste en N3 in die suide is ook afgekondig. In die gebied sal verskerpte waarneming gedoen word om vas te stel of die siekte dalk voorkom, maar die beweging en vervoer van diere word nie beperk nie.
Joemat-Pettersson het ook bevestig dat die stam van die virus nog nie bepaal kon word nie en dat toetse ook in Brittanje gedoen word. Mense wat sedert Januarie vanjaar diere uit die besmette gebied vervoer het, word dringend versoek om dit by staatsveeartse aan te meld.
“Ons wil ons handelsvennote en die plaaslike bedryf wat deur die verbod op uitvoer en die beweging van diere geraak word, die versekering gee dat ons bewus is van die ekonomiese impak weens die uitbreking van die siekte en dat alles moontlik gedoen sal word om die siekte hok te slaan,” het sy gesê.
22 Maart 2011