“Die jongste uitbreking van bek-en-klouseer is waarskynlik die grootste in die geskiedenis van die land,” het ’n senior amptenaar van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye verlede week op ’n vergadering met die georganiseerde landbou en ander betrokkenes oor dié situasie opgemerk, sê mnr. Gerhard Schutte, die uitvoerende hoof van die Rooivleis-produsente-organisasie.
Schutte sê hulle het verlede week self die gebied waar die siekte uitgebreek het, besoek en die boere (wit en swart) is ontevrede oor die situasie. “Ons kan dit verstaan, en ons kan verstaan dat ’n verbod op die uitvoer van diere met gesplete hoewe en hul produkte ingestel is.”
Nasionale krisis
Hy sê die situasie is ’n nasionale krisis en ná die vergadering wat Vrydag (11 Maart), plaasgevind het, blyk dit of die departement die erns van die saak begin besef. Hy sê hulle is bekommerd dat die verbod wel ’n drastiese invloed op die land en verskeie bedrywe kan hê.
“Slegs sowat 1% van die vleisbedryf word deur die verbod geraak, maar die ouens met die huide en velle en die wolbedryf het glo groot probleme”, vertel Schutte.
Vervoerverbod
Schutte sê hulle is tevrede met die departement se aankondiging verlede week dat die vervoerverbod in KwaZulu-Natal gedeeltelik gelig is. “Die probleemgebied is geïdentifiseer en waar die probleem is, moet die gebied afgebaken word.”
Intussen word padblokkades in die suidelike dele naby die N2 gehou, aangesien monsters van dié gebied tans getoets word en die gebied nog nie as vry verklaar is nie.
14 Maart 2011