Die uitbreking van bek-en-klouseer in KwaZulu-Natal en die opskorting van die uitvoer van diere met gesplete hoewe, is ’n groot slag vir die wolbedryf.
Me. Ona Viljoen, woordvoerder van Cape Wools, sê die tydelike staking van uitvoer is ’n “yslike terugslag” vir dié bedryf, waarvan 80% van die totale jaarlikse aanbod vetwol (onverwerkte wol) uitgevoer word.
Viljoen sê 38,4 miljoen kilogram vetwol van R1,34 miljard is in die 2009/’10-boekjaar uitgevoer. Vir die 2010/’11-boekjaar tot dusver (van Augustus 2010 tot einde Januarie 2011) staan die uitvoer op 16 miljone kg, ter waarde van R602 miljoen. “Die seisoen is amper verby, maar dié verbod gaan beteken dat die bedryf honderde miljoene rande gaan verloor”.
Veiling uitgestel
Weens die uitvoerverbod het Cape Wools ook besluit om die gebruiklike Woensdagveiling op 2 Maart vir eers uit te stel tot meer inligting oor die omvang van die siekte beskikbaar is.
“Dit sal uitvoerders ook kans gee om met hul kliënte te gesels oor aankope en watter stappe hulle oorweeg. Hoewel die land vrywilliglik ons status as ’n land vry van bek-en-klouseer prysgegee het, kan individuele lande self besluit of hulle wil hê uitvoer moet voortgaan of nie”.
Viljoen sê die grootste aankopers van Suid-Afrikaanse vetwol is tans Indië en die Tjeggiese Republiek.
Chinese besoek
Intussen sê Viljoen hulle vrees dat dié uitbreking ’n invloed kan hê op ’n besoek van Chinese sakemanne en regeringsbeamptes wat na verwagting volgende week in die land aankom.
Dié besoek is gereël na aanleiding van die uitbreking van Slenkdalkoors verlede jaar en China derhalwe alle uitvoer gestaak het ondanks bepalings van die Wêreld-Gesondheidsorganisasie dat dié siekte nie uitvoer hoef te kelder nie.
“Die afvaardiging moet Sondagaand land. Duisende rande is bestee om die span hier te kry. Ons hoop regtig dat dit sal kan voortgaan, want dié uitvoer moet herstel word”, sê Viljoen.
1 Maart 2011