Die verbod op uitvoer weens die uitbreking van bek-en-klouseer kan moontlik in Mei aanstaande jaar opgehef word, aldus die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO).
Mnr. Gerhard Schutte, hoof uitvoerende beampte, sê me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, het op Agri SA se beleidskonferensie in Stellenbosch gesê die verbod kan teen dié datum gelig word mits die proses glad verloop.
“Sy het erken dat die verbod baie hoog op die departement se agenda is en dat sy baie druk op amptenare plaas om die situasie so vinnig moontlik opgelos te kry,” vertel Schutte.
Mnr. Dave Ford, hoof uitvoerende beampte van die Rooivleisbedryfsforum, het verlede jaar aan Landbou.com gesê die verbod kan moontlik eers oor vier jaar opgehef word.
Huiswerk
Schutte sê hulle besef dat ’n lang pad voorlê om die land se status as vry van bek-en-klouseer heringestel te kry. “Ná die minister se toespraak het ons baie huiswerk om te doen, veral binne die Dieregesondheidsforum.”Dié forum is verlede jaar op die been gebring sodat die bedryf uit een mond kan praat.
Hy sê hulle het die minister gevra om dié forum amptelik te erken, veral aangesien dit ’n groot rol in die hantering van die verbod speel. “Sy het gevra dat ons ’n brief aan haar rig, waarna sy dit deeglik sal oorweeg.”
Wat die oprig en instandhouding van ordentlike grensheinings met buurlande en die Krugerwildtuin betref, het die minister aangedui dat sake stadiger vorder as wat sy wil hê. Dié heinings is die mandaat van drie departemente, wat die proses vertraag. “Sy het wel aangedui dat dit ook ’n saak is wat baie aandag geniet.”
Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, die Departement van Openbare Werke en die Departement van Waterwese is vir die heinings verantwoordelik.
Intussen ondervind verskeie bedrywe weens die verbod probleme om hul produkte uit te voer. “Kort ná die verbod verlede jaar ingestel is, het tot die pynappelbedryf probleme met uitvoer gehad,” vertel Schutte.
Die verbod is in Februarie verlede jaar aangekondig. Die Nasionale Landboubemarkingsraad het verlede jaar bereken dat die landboubedryf vir elke jaar wat die verbod van krag is, sowat R4 miljard aan inkomste inboet.
21 Februarie 2012