
Die departement van landbou, grondsake en landelike ontwikkeling het dié besluit vanaand bekend gemaak. Gesplete hoefdiere, waaronder wild, mag wel geskuif word, maar met omsigtigheid. Kleinvee is ook tans nog kwytgeskeld van dié verbod.
Meer besonderhede, onder meer oor die tydperk van die verbod, sal Dinsdagoggend in die Staatskoerant verskyn.
Mnr. Gerhard Schutte, uitvoerende hoof van die Rooivleisprodusentevereniging, sê die departement het Maandagaand die nuus tydens ’n vergadering by monde van mnr. Mooketsa Ramasodi, direkteur-generaal van die departement, aangekondig.
Lede van die nasionale dieregesondheidsforum en voorsitters van die provinsiale dieregesondheidsforums was ook teenwoordig.
Volgens Schutte kan beeste kan wel vir slagdoeleindes met die nodige permitte vervoer word.
“Hierdie is drastiese stappe wat die departement instel, maar ons moet onthou bek-en-klouseer bly ’n beheerde siekte. Ons moet wel herbesin oor ons benadering tot bek-en-klouseer. Tans word selektiewe inentings nie in Suid-Afrika toegepas nie, en ons sal daarna moet kyk. Die vervaardiging van entstowwe, en hoe dit beskikbaar gestel word, sal ook onder die kollig moet kom.”
Die tydperk van die verbod is nog nie amptelik bevestig nie, maar daar is sprake dat dit sowat 28 dae kan duur.
* Me Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het Dinsdag luidens 'n verklaring aangekondig dat 'n verbod op die vervoer van beeste vir 21 dae sal geld. Lees hier meer.
Intussen het veilingshuise baie vrae oor die verbod. Lees hier meer daaroor.