“Ons vra al die boere se samewerking sodat ons ons lewensbestaan kan beskerm,” sê mnr. Herkie Viljoen, voorsitter van die Bethlehem-distrikslandbou-unie. Die organisasie bestuur die Bethlehem-beheersentrum wat veiligheidsdienste aanbied, en die sentrum se kantore dien as koördinasiepunt vir die werksaamhede van ’n werkgroep wat gestig is. Die sentrum se strukture en kameras sal nou vir veiligheid én die toepassing van biosekerheid gebruik word.
Viljoen sê sprake van die siekte op die plaas het verlede Vrydag rugbaar geword. Saterdag het hulle al die boereverenigings gekontak om ’n verteenwoordiger te benoem om in die werkgroep te dien. Die werkgroep het Dinsdag op Bethlehem vergader, en dié verteenwoordigers, staatsveeartse, private veeartse, verteenwoordigers van kommunale en opkomende boere, en verteenwoordigers van afslaers het die vergadering bygewoon.
Volgens Viljoen het hulle met mnr. Jess de Klerk, verteenwoordiger van Saai, die strukture wat in die Senekal-streek gevestig is en forums in Limpopo en KwaZulu-Natal kontak gemaak om te gesels oor die vestiging van strukture en die pad vorentoe.