
Boere in Suid-Afrika se sentrale en westelike streke moet nie meer aan bek-en-klouseer dink as ’n probleem wat net hul kollegas in die verre ooste van die land raak nie. Hierdie aansteeklike, aanmeldbare en ekonomies belangrike siekte van diere met gesplete hoewe is onlangs in Noordwes bevestig, wat groot kommer onder dieregesondheidsowerhede en leiers van die rooivleiswaardeketting veroorsaak.
Mnr James Faber, voorsitter van die nasionale Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), sê dat hierdie bedenklike situasie die RPO en ander bedryfsorganisasies oortuig het om saam ’n dringende openbare inligtingsessie oor bek-en-klouseer te reël. Een van die sleuteldoelwitte van hierdie geleentheid is om meer boere in te lig oor die werklike bedreiging wat bek-en-klouseer ook vir hulle inhou.
“Ons in die sentrale en westelike dele van Suid-Afrika weet min van bek-en-klouseer. Dit was ’n kwessie vir ons kollegas in die ooste, maar nou moet ons almal daarvan bewus maak. Elke boer moet biosekerheid ’n topprioriteit maak. Die koop of verkoop van net een besmette dier kan ’n groot probleem veroorsaak.”
Hy sê op die inligtingsdag by Bothaville sal deelnemers inligting kry oor die siekte en wat nodig is om diere daarteen te beskerm nie. Boere sal ook bedryfsleiers en die regering se dieregesondheidsowerhede kan inlig oor hul behoeftes om hul boerderye te beskerm.
Faber sê ’n ander oogmerk met die inligtingsdag is dat alle deelnemers ’n gemeenskaplike visie ontwikkel om hierdie bedreiging nou en in die toekoms doeltreffend aan te pak. Spanwerk tussen die regering se dieregesondheidsowerhede, boere en die bedryfsorganisasies wat hulle ondersteun, is van deurslaggewende belang vir so ’n visie om suksesvol te wees.