
Dr. Stuart Varrie, veeartskonsultant van Cape Wools, waarsku wolboere dat hulle nie van die uitbreking verwyderd is nie.
Tydens ’n onlangse paneelbespreking oor die uitbreking van bek-en-klouseer op Agri Oos-Kaap se kongres het dr. Shaun Morris, ’n veearts wat konsultasiedienste aan voerkrale bied, boere gewaarsku dat die virus oornag deur die onwettige en/of ongereguleerde beweging van diere in ’n sleepwaentjie uit Limpopo na die Wes-Kaap versprei kan word.
“Boere moet besef dat daar ’n uitgebreide uitbreking van bek-en-klouseer in Suid-Afrika is wat nie onder beheer is nie,” sê Varrie.
Sy raad aan boere is om met die veearts in hul omgewing saam te werk om ’n biosekerheidsplan vir hul eie plaas saam te stel.
Op ’n onlangse Ruvasa-kongres is gemaan dat boere minstens een maal per jaar ’n veearts op hul plaas moet sien.
Maatreëls
Boere moet veral op die volgende let om die verspreiding na hul plaas te voorkom.
“Boere moet bewus wees van biosekerheid op die plaas, wanneer diere na die plaas gebring word wat moontlik die virus kan versprei.”
Boere moet onder meer op die volgende let:
- Waar die diere gekoop word en vandaan kom.
- Die dier moet deur die regte verkopersverklarings vergesel word, waar die dier se gesondheidstatus deur verkieslik ’n veearts gesertifiseer word.
- Diere wat van buite na die plaas gebring word moet vir 28 dae afgesonder word. Dan mag hulle geen direkte kontak met ander diere hê nie. Varrie stel voor dat die kuddeveearts dan weer die diere inspekteer om hul gesondheidstatus te bevestig voordat hulle op die plaas vrygelaat word.
- Tydens die afsondering moet alle werkers, voertuie of waentjies wat kontak met die diere gehad het, ontsmet word voor dit verder op die plaas beweeg.
- Bek-en-klouseer versprei nie net deur direkte kontak tussen diere nie, maar dit kan ook versprei word deur klere, skoene, hande, voertuie, sleepwaens, ens.
- Boere moet bewus wees van mense wat tussen plase beweeg soos skeerders, maatskappyverteenwoordigers en veeartse.
Hy maan boere om alles in hul vermoë te doen om die verspreiding van die siekte te voorkom. “Die enkel grootste bedreiging vir die verspreiding van die siekte oor die land heen is die onreëlmatige beweging van diere.”
Die nasionale forum vir dieregesondheid se basiese biosekerheidsmaatreëls is by bit.ly/3zZ7hHx beskikbaar.