
Vermoedelik is een of meer diere wat op ’n
veeveiling in Potchefstroom, Noordwes, gekoop is, verantwoordelik vir die
eerste bevestigde geval van bek-en-klouseer in Gauteng. Die siekte is endemies
in die ooste van Suid-Afrika, maar dit kom al hoe meer verder wes voor. Dit
veroorsaak groot kommer by dieregesondheidsowerhede, produsente en verwerkers
van produkte van diere met gesplete hoewe.
Luidens ’n verklaring wat vandag deur die Gautengse departement van landbou en landelike ontwikkeling uitgereik is, sê die LUR, mnr. Parks Tau, dat ’n uitbreking van bek-en-klouseer op ’n plaas in die distrik Randfontein bevestig is. Nog moontlike gevalle van dié siekte word ook in die distrikte Tarlton, Fochville, Wallmansthal en Onderstepoort ondersoek.
Landbouweekblad het Donderdag berig owerhede het vasgestel dat die vee wat onlangs by Potchefstroom met bek-en-klouseer Potchefstroom gediagnoseer is, op 18 Maart op ’n veeveiling in die distrik gekoop is.
Noordwes se dieregesondheidsowerhede het vasgestel 217 beeste, skape en bokke wat op dié veiling gekoop is, is na die distrikte Vanderbijlpark, Westonaria en Kempton Park in Gauteng, na die Vrystaat, en na die distrikte Ventersdorp en Potchefstroom in Noordwes vervoer.
Luidens Tau se verklaring is die bevestigde en vermeende gevalle van bek-en-klouseer vermoedelik van ander provinsies na Gauteng gebring.
“Ons wil die publiek gerusstel dat die veeartsenykundige dienste van Gauteng alle maatreëls getref het om die verspreiding van die siekte te beperk. Die bekamping van sulke aansteeklike virussiektes is ’n gesamentlike verantwoordelikheid van alle belanghebbendes in die veebedryf. Ons doen ’n beroep op boere om ekstra waaksaam te wees vir tekens van bek-en-klouseer by hul vee. Alle verdagte gevalle moet onmiddellik by veeartsenydienste aangemeld word.”
Die Gautengse departement raai boere aan om nie vee te koop by verkopers wie se dieregesondheidstatus onbekend is, of van bek-en-klouseerbeheergebiede nie. Vee-afslaers word versoek om versigtiger te wees om vee op hul persele te aanvaar, want die veiling op Potchefstroom wys kan dit ’n terrein vir die verspreiding van die siekte word.
Landbouweekblad het vroeër berig organisasies in Suid-Afrika se rooivleiswaardeketting beoog om enigeen wat diere onwettig uit beheergebiede vervoer, te vervolg.