Suid-Afrika het sy grense vir invoere vanaf Paraguay gesluit weens die uitbreking van bek-en-klouseer in dié land.
Luidens ‘n verklaring van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het Paraguay die Wêreld-organisasie vir Dieregesondheid (OIE) op 19 September 2011 in kennis gestel dat dié siekte in die land voorkom.
Die Suid-Afrikaanse Direktoraat vir Dieregesondheid het derhalwe die land se grense vir enige veeartsenykundige permitte vir die invoer van gespletehoef-diere van Paraguay af opgeskort. “Ongebruikte veeartsenykundige permitte sal gekanselleer word,” sê die departement.
Diereprodukte wat volgens die OIE se strenger voorskrigte vir bek-en-klouseer voldoen sal by die verbod uitgesluit word.
Suid-Afrika se situasie
Intussen sê KwaNalu hulle stuur op ‘n baie gereelde basis versoeke aan die LUR vir landbou in KwaZulu-Natal asook die departement versoeke om die bek-en-klouseer-situasie in dié provinsie en Suid-Afrika aan te spreek.
“Ek verstaan dat vir elke maand wat die verbod op die uitvoer van gespletehoef diere en verwante produkte op Suid-Afrika van toepassing is, verloor die land se ekonomie R30 miljoen. Ek weet die boere in die noorde van Natal het al opgehou om hulle verliese op te tel,” aldus me. Sandy la Marque, die hoof uitvoerende bestuurder van KwaNalu.
Suid-Afrika se grense is in Februarie 2011 vir uitvoer gesluit ná serologiese toetse vir dié siekte positiewe resultate in die noorde van KwaZulu-Natal gelewer het.
Volgens La Marque kom dit voor of die departement tans sy voete sleep om die situasie daadwerklik op te los. “Daar is al baie vrae oor die situasie gevra, en ons moet nou weet of dié uitbreking onder beheer is en wat ons daaraan kan doen!”
20 September 2011