As ’n streng protokol weens die serologiese voorkoms van bek-en-klouseer by ’n voerkraal in Gauteng in dié provinsie ingestel word, kan dit die veebedryf seermaak, sê die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO). Mnr. Gerhard Schutte, die hoof uitvoerende beampte van die RPO, sê hulle verwag om binne dae te hoor watter protokol in die provinsie ingestel sal word.
“Verdere toetse is gedoen om die erns van die situasie te bepaal en na aanleiding van dié toetse moet die protokol bepaal word. Die impak op die bedryf gaan baie afhang van hoe streng die protokol sal wees”, aldus Schutte.
Optimisme taan
Schutte sê groot kommer bestaan oor die verspreiding van die siekte, en die aanvanklike optimisme dat die virus net tot die afgebakende area in KwaZulu-Natal beperk sou kon word, is besig om te taan.
“Gelukkig dui die toetse nog net ’n serologiese teenwoordigheid aan, maar dit sal definitief ’n verdere impak op ons bek-en-klouseervrye status hê”, vertel Schutte.
Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het vroeër die week die voorkoms van die virus in Gauteng bevestig. Beeste wat glo in Vryheid gekoop en na ’n voerkraal in Gauteng vervoer is, het die siekte onder lede gehad. Die voerkraal is onder kwarantyn geplaas terwyl die voorval verder ondersoek word.
25 Maart 2011