
Dieregesondheidsowerhede oorweeg om die grense van die bestaande siektebeheergebied vir bek-en-klouseer in KwaZulu-Natal uit te brei, nadat ál meer voorvalle van die siekte sedert Januarie buite die beheergebied begin voorkom het.
Sedert ’n bek-en-klouseer-uitbreking einde Mei verlede jaar vir die eerste keer by kommunale beeste in die distrik Mtubatuba bevestig is, is die siekte op 42 plekke in die provinsie geïdentifiseer, luidens ’n verslag gedateer 25 Maart deur dr. Mpho Maja, direkteur van dieregesondheid, wat deur die nasionale departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling bekend gemaak is. ’n Inentingsveldtog teen bek-en-klouseer is op 15 Maart in die provinsie van stapel gestuur.
Beheergebied gewysig
Me. Thoko Didiza, minister van die landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het sedert die uitbreking in Mei ’n beheergebied aangekondig om dieregesondheidsowerhede te help om verspreiding van die siekte te voorkom. Didiza het die gebied op 7 September 2021 verklein nadat dit gelyk het asof die uitbreking in die provinsie onder beheer was.
“Weens die nuwe uitbrekings in Januarie en die daaropvolgende verspreiding van die siekte buite die grense van die beheergebied, word die grense van die bestuursgebied heroorweeg om alle gebiede in te sluit met bevestiging van die siekte, of wat vermoedelik ’n hoë risiko van besmetting het omdat hulle epidemiologies gekoppel is. Intussen word hierdie individuele liggings in KwaZulu-Natal in kwarantyn geplaas,” skryf Maja in die verslag.
Neem verantwoordelikheid
Mnr. Angus Williamson, voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie in KwaZulu-Natal, bedank die provinsie se dieregesondheidsowerhede vir hul verskerpte pogings om bek-en-klouseer onder beheer te bring, ondanks onvoldoende hulpbronne en oorwerkte personeel.
Hy maan alle belanghebbendes in die openbare en private sektor om die beweging van vee strenger te beheer. Stappe wat opgeskerp moet word, is strenger beheer rakende die uitreiking van veebewegingspermitte, inspeksie van voertuie wat vee vervoer, en die nakoming van regulasies vir biosekerheid by veeveilings.
“Boere moet ook seker maak van die biosekerheid en naspeurbaarheid van diere wat hulle verkoop of koop. Dit is nie net bek-en-klouseer wat ’n groot bedreiging is nie, maar ook ander siektes, soos brucellose.
“Die bewegingsbeheer en biosekerheidsregulasies is nie daar om boere se lewe moeilik te maak nie. Hulle is daar om wetsgehoorsame en pligsgetroue boere te beskerm wat potensieel ernstig benadeel kan word deur mense wat vee wat moontlik ekonomies belangrike siektes dra, onwettig verskuif.”
Hy doen ’n beroep op alle mense betrokke by die rooivleis-waardeketting om aan biosekerheids- en naspeurbaarheidsprotokolle te voldoen.
“As ’n bedryf moet ons ons eie huis in orde kry. Ons kan baie by die vark- en pluimveebedryf leer. Ons moet verantwoordelikheid aanvaar om onsself te beheer,” sê Williamson.