
Me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, is steeds besig met ’n veldtog om maatreëls teen die verspreiding van die siekte toe te pas. Daar word veral gekonsentreer op Limpopo, waarvandaan die siekte na KwaZulu-Natal, Noordwes en Gauteng versprei het.
Die bekamping van die siekte is volgens haar noodsaaklik om veeboere, veral opkomende swart boere, se markaandeel te beskerm. “Deur die verspreiding van die siekte te keer, sal ons die huidige verbod op die uitvoer van Suid-Afrikaanse vleis kan bestuur. Dit het reeds ’n impak op die landbousektor se uitset en inkomste gehad. Daarom het ons ’n multidissiplinêre span op die been gebring om vas te stel wat daartoe lei dat die siekte versprei.”
’n Probleem wat tot die verspreiding van die siekte bydra, is die grens tussen die Krugerwildtuin en die plase en huishoudings wat aan die park grens. Buffels dra die siekte oor wanneer hulle met beeste meng. Daarom is besluit dat kontak tussen buffels en beeste sover as moontlik beperk moet word.
Die beweging van vee uit beheergebiede het ook ’n groot bydrae tot die verspreiding van die siekte gelewer.
Mnr. Chupu Stanley Mathabatha, premier van Limpopo wat verlede week met Didiza vergader het, sê hy verwelkom haar ingryping in die situasie. “Die landbou is een van die sleutelboustene van Limpopo se herstelplan. Enigiets wat dit bedreig, het ook ’n impak op die algemene ekonomiese voorgang en herstel van die provinsie.”
Tradisionele leiers
Didiza het ook met Limpopo se huis van tradisionele leiers, onder leiding van kgoshi Malesela Dikgale, ontmoet. Daar is tydens die vergadering ooreengestem dat verdere ontmoetings gedurende die volgende twee weke met ander tradisionele leiers in Vhembe, waar ’n vorige uitbreking in Januarie 2019 begin het, en Mopani sal wees om die bekamping van die siekte te bespreek.
Dikgale sê die departement help hulle as leiers aangesien die mense in hul gemeenskappe nie hul vee kan verkoop nie. “Hierdie is nie net vir die regering ’n probleem nie. Ons mense word ook geraak en ons is gewillig om met die regering saam te werk en ’n einde tot hierdie vloed genaamd bek-en-klouseer te bring.”
’n Span is ook op die been gebring om ’n noodplan saam te stel wat gemeenskappe bewus maak van bek-en-klouseer, asook wat gedoen moet word om die verspreiding van die siekte te voorkom.
Maatreëls reeds toegepas
Sedert die uitbreking van bek-en-klouseer in Januarie vanjaar het die departement van landbou die grens van die beheergebied in KwaZulu-Natal, wat in September verlede jaar verklein is, aangepas om die gebiede waar gevalle van bek-en-klouseer geïdentifiseer is, asook gebiede wat as hoërisikogebiede beskou word, in te sluit.
Beperkings op die beweging van vee bly van krag in hierdie gebied en sowat 70 000 beeste is reeds daar ingeënt.
Sedert 8 April is geen verdere gevalle van bek-en-klouseer in Limpopo aangemeld nie. Nog ’n geval is egter in Wallmansthal in Gauteng op ’n kommunale plaas geïdentifiseer. Daar word egter vermoed dat van die positiewe toetse weens inenting kan wees.
Die diptenke in Limpopo waar bek-en-klouseer bevestig is, asook bogenoemde plaas is steeds onder kwarantyn. Beeste in Thulamela in Limpopo word ingeënt om ’n band van weerstandige diere om die diptenke te vorm.
Daar is ook geen verdere gevalle van die siekte sedert 8 April in Noordwes aangemeld nie. Die twee plase waar bek-en-klouseer bevestig is, een in Randfontein in Gauteng en ’n ander in Moqhaka in die Vrystaat, is geïdentifiseer as die oorsprong van die siekte wat na Noordwes versprei het nadat diere van die plase op dieselfde veiling gekoop is. Die diere is intussen ingeënt om die verspreiding van die siekte te bekamp en sal geslag word.
Bogenoemde plase is steeds onder kwarantyn met streng toegangsmaatreëls. Die plase is volgens die departement goed omhein en die beweging van hul diere sal voorkom kan word.