
“Dis ’n skouspelagtige gemors en julle kan my só aanhaal,” het dr. Mpho Maja, direkteur van dieregesondheid van die departement landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming, op ’n noodvergadering met belanghebbendes in die rooivleisbedryf gesê.
Sy het erken die departement het nie die kapasiteit om die siekte binne die beheersone wat in 2019 in Limpopo ingestel is, vas te pen nie. Dit volg nadat nuwe bek-en-klouseergevalle in Maart buite die beheersone aangemeld is.
Daarná is siek diere ook onwettig uit die beheersone tot in Potchefstroom vervoer waar van die diere op ’n veiling verkoop is. Dit het veroorsaak dat besmette diere vanaf Noordwes na Gauteng en die Vrystaat vervoer is. Gevalle is sedertdien ook in dié provinsies aangemeld.
Dis ’n groot probleem vir die regering om te keer dat diere uit die beheersone geneem word, het Maja gesê. Allerlei maatreëls, soos padblokkades, heinings, brandmerke en oorplaatjies wat die diere se status aandui, het nie gekeer dat daar wel diere deurgeglip het en nou tot die “groot, vet gemors” gelei het nie.
Veeboere op hete kole
Die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf sit tans op hete kole oor die moontlikheid dat dié hoogs aansteeklike virus verder gaan versprei weens die staat se gebrek aan kapasiteit om dit te beheer. Dit kan op sy beurt lei tot ’n verkoopsverbod in provinsies wat geraak word.
“Ons as die boere staan in die middel van die hele ding. Ek het geen manier om ’n bestaan te voer as ek nie my beeste kan verkoop nie. En ons sal geen voedselsekerheid in Suid-Afrika meer hê as ons nie ons diere kan verkoop nie,” het mnr. James Faber, voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie gesê.
Sake soos gewoonlik is nie meer ’n opsie as dit kom by bek-en-klouseer nie, het mnr. Gerhard Schutte, voorsitter van die nasionale dieregesondheidsforum gesê. “Ons sloer te lank om besluite te neem. Ons sal moet vinniger beweeg. Kom ons hanteer die krisis met permanente oplossings en herstel die vertroue van ons buitelandse handelsvennote.”
Die vergadering, wat op Nampopark by Bothaville gehou is, is deur verskeie bedryfsorganisasies, voerkraaleienaars en rooivleisprodusente van oor Suid-Afrika heen bygewoon. Die doelwit was eerstens om te besin oor ’n praktiese plan om die uitbreking van die siekte buite die beheersone in Limpopo te bestuur en tweedens om die private sektor se hulp aan te bied om die regering by te staan met inentings in die gebiede in Limpopo waar die siekte ’n vashouplek gekry het.
Deurbraak oor private veeartse se hulp
Twee bedryfsleiers het aan Landbouweekblad gesê die groot deurbraak op die vergadering was dat die regering bereid was om dié hulp met inentings te aanvaar. Dit was voorheen nie die geval nie.
“Wat ons gister reggekry het, is dat ons die gesondheidsowerhede sover gekry om te erken hulle het ‘n kapasiteitsprobleem en dat ons private veeartse kan aanwend om die siekte te behandel,” het mnr. Louw van Reenen, voorsitter van die rooivleisbedryfsforum en uitvoerende hoof van Beefmaster gesê.
As inentings in die beheersone ook deur private veeartse gedoen kan word, kan die probleem vinniger en beter aangepak word, het mnr. Dewald Olivier, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Voerkraalvereniging, gesê. “Dis die bedryf se grootste begeerte; ons wil net toegelaat word om te help.”
Die nodige regulatoriese onderbou om dié ingryping moontlik te maak, is reeds ’n tyd lank deur die bedryf ingestel, het Van Reenen gesê. “Die proses het verlede jaar op 19 Oktober in Parys aan die gang gekom toe ons ’n mandaat gekry het om die primêre produsente-kluster te vorm. Dit sluit nou al die bedryfsorganisasies tot by die abattoirs in. Dis toe gevorm en samewerking is reeds goed op dreef. Die aansoek vir die statutêre heffing is klaar gedoen en die regulasies vir die landbouprodukte-agente (Apac) is geregistreer en in die Staatskoerant afgekondig.”
Dit beteken volgens Van Reenen dat Apac nou tande sal kry om oortreders vas te vat wat besmette diere op onwettige wyse uit die beheersone vervoer en op veilings verkoop. Verder sal die bedryf en die regering saam die slaankrag hê om die siekte by sy oorsprong vas te vat.
“Dis die enigste oplossing. Al die ander voorstelle, soos om die diere terug te stuur na die beheerde gebiede, gaan nie die probleem oplos nie, want jy gaan altyd ’n bron vir die siekte hê. Maar as die diere in die beheersone almal ingeënt kan word, is die kans baie kleiner dat hulle gaan siek word.”
Plan volg binnekort
Die tweede gevolg van die noodvergadering op Nampopark is dat daar nou ’n dringende plan opgestel word deur die rooivleisbedryfsforum en die nasionale dieregesondheidsforum om bek-en-klouseer buite die beheerde gebied te takel. Verskeie deelnemers op die konferensie het praktiese voorstelle hieroor gedoen, en dit word alles oorweeg, sê Olivier.
Een voorstel wat waarskynlik nie die paal sal haal nie, was dat nasionaal ingeënt moet word teen die siekte. Bedryfsleiers en die regering is weens verskeie praktiese probleme nie daarvoor te vinde nie. Diere wat ineënt is, ontwikkel teenliggaampies en toets positief vir die siekte. “As jy op groot skaal inent, kom ons sê 3 miljoen beeste per jaar, en jy het terselfdertyd nóg ’n uitbreking, hoe gaan jy die verskil bepaal tussen die uitbreking en diere wat ingeënt is?” het Van Reenen gevra.