
Mnr. James Faber, voorsitter van die nasionale Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), sê die verbod en gepaardgaande riglyne is vir die vleisbedryf se eie beswil is. Dit is nie ’n straf of pakslae wat uitgedeel word nie. Dit is om ons bedryf te probeer red en te voorkom dat dit in ’n totale chaos verval. Dit stuur ook ’n boodskap aan ons buitelandse handelsvennote dat ons iets probeer doen om hierdie uitbreking van bek-en-klouseer onder beheer te kry.”
Die tyd sal leer of 21 dae genoeg is om die verspreiding van die siekte in die bek te ruk, maar Faber meen dit sal beslis die druk op dieregesondheidsdienste verlig. “Dit sal beslis help vir die laboratoriums wat agter is met toetse, asook tegnici en staatsveeartse wat toetse op plase moet doen. Die uitbrekings gebeur ongelooflik vinnig, daar was die afgelope week meer as vyf uitbrekings. Die mannekrag is eenvoudig nie genoeg om al die werk gedoen te kry nie. Kom ons glo dit sal genoeg tyd wees om hulle te help.”
Volgens hom sal dit ’n grootskaalse, gesamentlike poging verg om die uitbreking onder beheer te bring. “Bek-en-klouseer is ’n nasionale probleem en dit is in die nasionale belang dat ons dit oplos. My versoek aan almal is om saam te werk en deel van die oplossing te wees. Kom ons aanvaar verantwoordelikheid hiervoor.
“Ons is veeboere. Wat gaan ons doen as daar nie meer ’n bedryf vir ons is nie? Ons moet ons bedryf en veeboere beskerm sover ons kan.”
Reëlings met finansiers
Beesboere se inkomste is in gedrang tydens die verbod. Faber moedig boere aan om die diere wat gereed is om geslag te word, na die abattoir te neem aangesien die verbod daarvoor voorsiening maak. “Mense wat met hul finansiers kan praat, moet dit so gou as moontlik doen en die nodige reëlings tref. Almal, banke ook, is bewus van die probleem en behoort begrip daarvoor te hê.
“Ons almal weet hoe dit werk. As jy ’n man nie kan betaal nie, sê jy dit vir hom en tref met hom ’n reëling. Hierdie bedryf sal weer vorentoe gaan. Ek glo in my hart en my siel dat hierdie bedryf nog fenomenale groei sal toon as ons net die bek-en-klouseer onder beheer kan kry.”
Vleistekort nie verwag
Volgens hom behoort die uitbreking nie op kort termyn ’n tekort aan vleis te veroorsaak nie. “Onthou, bek-en-klouseer het ’n impak op die ekonomie, nie die produk nie. Die gehalte van die produk vir die verbruiker word nie beïnvloed nie.”
Intussen het Botswana en Namibië die uit- en invoer van beeste van en na Suid-Afrika verbied. Luidens ’n verklaring wat gister uitgereik is, is alle ongebruikte uitvoerpermitte vir lewende hawe wat vanaf Botswana na Suid-Afrika uitgevoer sou word, gekanselleer.
“Dit is sleg dat dit so is, maar ons buurlande is gewoonlik die lande wat die vinnigste sulke aankondigings maak,” sê Faber. “Ons voer min vleis na ons buurlande uit en daarom sal dit nie ’n groot invloed op ons hê nie. Die verskuiwing van diere vanaf Botswana en Namibië na voerkrale in Suid-Afrika sal egter ’n impak op voerkrale se voorraad hê.
“Die groot probleem waarmee ons sit, is die uitvoer van teelmateriaal na ons buurlande wat dit dringend nodig het. Suid-Afrika is ’n groot bron van unieke teelmateriaal wat ons buurlande ook gebruik. Dit is vir my een van die grootste bekommernisse, want dit skep die moontlikheid dat die Suider-Afrikaanse teelkudde nie op standaard sal bly nie en ons drome om ’n beter dier met beter vleis daar te stel nie sal realiseer nie.”
Mnr. Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, sê as die uitbreking van bek-en-klouseer nie onder beheer gebring kan word nie, staan die land voor die verwoesting van die plaaslike kommersiële veebedryf, asook die vernietiging van die uitvoerpotensiaal van plaaslike wol- en rooivleisprodukte met massiewe ekonomiese verliese en gepaardgaande werksverliese vir die land en die hele rooivleiswaardeketting.
“Vrystaat Landbou ondersteun die 21-dae-verbod op die verskuiwing van vee om enige verdere verspreiding van die hoogs aansteeklike virus te verhinder en versoek alle veeboere en die veebedryf, insluitend staats- en private veeartse, om almal saam te werk om die weloorwoë strategiese plan te laat werk.”
Hy voeg by dat staatsveeartse bevestig het dat al 60 000 diere wat op besmette plase in die Vrystaat opgemerk is, ingeënt is. Hulle moet 21 dae staan voordat die beeste veilig geskuif kan word om te verhinder dat die siekte versprei.
“Intussen moet aangrensende plase in die kwarantyngebiede, asook enige ander plase waarheen beeste geskuif is – ook plase langs die roetes – vir die volgende 21 dae waaksaam wees vir enige tekens van bek-en-klouseer en dit onmiddellik aan ’n veearts rapporteer.”