
Die regering het op 16 Augustus ’n nasionale verbod op die vervoer van beeste ingestel om die verspreiding van bek-en-klouseer te stuit. Dit sal drie weke geld, maar kan verleng word.
“Die bedryf wou hê die regering moet bek-en-klouseer met groot dringendheid prioritiseer sedert dit uitgebreek het. Ons het nou gekom by ’n stadium dat dié verbod noodsaaklik was.”
Van Reenen het die regering van Botswana se blitsvinnige en besliste optrede op 24 Augustus geloof toe ’n verbod op die vervoer van diere met gesplete hoewe ingestel is nadat slegs ’n vermoede ontstaan het dat daar ’n geval in sy noordoostelike beheerde gebied opgeduik het. Dit is nog nie amptelik as bek-en-klouseer bevestig nie. Volgens Van Reenen staan dit in skerp teenstelling met die weifeling waarmee die Suid-Afrikaanse regering opgetree het.
“Dié besliste ingryping was nodig, maar het ontbreek in Suid-Afrika vier jaar gelede tot bek-en-klouseer die eerste keer hier geïdentifiseer is, en dis hoekom die probleem so verreikend geraak het. Daar is baie wat ons kan leer uit ons buurland se prysenswaardige en dapper stap,” sê Van Reenen. Hierdie stap ruim terselfdertyd ook die gerug uit die weg dat die bek-en-klouseerprobleem in Suid-Afrika vanuit die buurlande oorgewaai het.
Van Reenen sê die stryd om bek-en-klouseer onder beheer te kry, vereis deelname van die bedryf én die regering, maar die bedryf is nie geraadpleeg in die aanloop tot die aankondiging van die vervoerverbod nie. Dit het onsekerheid geskep. “Ons het nog altyd gevra dat die regering die bedryf as ’n noodsaaklike belanghebbende erken om die siekte onder beheer te bring.”
Gunstige gevolge uit die verbod
Maar daar is onbedoeld tog gunstige gevolge sedert die beperkings op die vervoer van beeste in Suid-Afrika en Botswana ingestel is, sê Van Reenen. Hieronder tel groter samewerking en ’n besef van die omvang van die risiko’s wat al die belanghebbendes in die beesvleisbedryf bedreig.
“Ons sien ’n groot veldtog deur private en openbare belanghebbendes om hierdie en ander knelpunte wat die sektor terughou, op te los. Naspeurbaarheid en biosekerheid is terug in die kollig en almal besef dit is noodsaaklik om die grootskaalse uitbrekings van siektes te voorkom.”
As die vervoerverbod langer as 21 dae sal duur, verhoog die risiko dat die voorraadvlakke van vleis wat vir verbruikers beskikbaar is, kan kwyn. “Almal word deur die vervoerverbod geraak, ook die vleisverwerkingsaanlegte, wat saam met voerkrale nie toegelaat word om diere vir voorraad aan te koop nie. Hoe langer die verbod duur, hoe groter word die risiko vir almal in die bedryf. Ons is hoopvol dat die siekte onder beheer gebring word binne die drie weke wat die verbod geld. As dit nie gebeur nie, sal daar ongunstige gevolge vir almal wees.”