
Die Suid-Afrikaanse wolbedryf is ’n groot slag toegedien toe China oor die naweek ’n verbod geplaas het op die invoer van alle diere met gesplete kloue en hul produkte uit Suid-Afrika, weens die jongste uitbreking van bek-en-klouseer in Noordwes, Gauteng, KwaZulu-Natal en Limpopo.
Volgens Cape Wools geld die verbod van 1 April af.
Luidens ’n verklaring aan produsente sê Cape Wools dat die verbod ook van toepassing is op wol wat reeds op pad is na China. Dit sal groot druk op die kontantvloei van wolkopers plaas.
“Die aankondiging van ’n totale verbod op produkte afkomstig van diere met gesplete kloue van Suid-Afrika, insluitend wol, kom as ’n verrassing,” sê Cape Wools
China vier tans die Qingming-vakansiedag, en die land se owerhede sal verdere besluite rakende die verbod van môre (5 April) af bespreek.
Luidens die verklaring verdien Suid-Afrika jaarliks R6 miljard met die uitvoer van wol.
“Die belang van die Suid-Afrikaanse wolbedryf kan nie oorbeklemtoon word nie, aangesien dit 40 000 kommunale en 8 000 kommersiële boere en hul families en afhanklikes ondersteun, sowel as die plaaswerkers wat deur die bedryf in diens gestel word. Kommunale boere maak veral staat op die Chinese mark vir die verkoop van hul wol.”
Wolveilings
Wolveilings is op kort termyn uitgestel en die situasie sal opnuut beoordeel word sodra verdere kommunikasie van China ontvang word.
Die wolbedryf is reeds tydens die 2019-uitbreking van bek-en-klouseer ’n groot slag toegedien toe woluitvoer na China, die grootste bestemming vir Suid-Afrikaanse wol, vir bykans sewe maande opgeskort is.
Suid-Afrika het tydens die 2019-uitbreking die nodige maatreëls, soos uiteengesit deur die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE) en deur Chinese doeane-owerhede vereis is, ingestel sodat wol steeds gedurende ’n uitbreking uitgevoer kan word. Die vereistes sluit onder meer ’n onderhandelde gesondheidsertifikaat in, wat voorsiening maak vir die inaktivering van bek-en-klouseer, soos voorgeskryf deur die OIE. Daarvolgens moes alle makelaars die nodige maatreëls tref om wolpakhuise te verhit.
Woluitvoer na China is tydens die 2019-uitbreking in Februarie van daardie jaar opgeskort, met uitvoer wat eers in September van daardie jaar kon voortgaan. Wolkopers het egter voortgegaan om wol te koop om die mark aan die gang te hou.
Volgens Cape Wools vergader die bedryf tans met nasionale en internasionale belanghebbendes om dit duidelik te stel dat wol reeds voldoen aan die uitvoervereistes ten opsigte daarvan om vry te wees van die bek-en-klouseervirus en dat wol dus van die verbod uitgesluit moet word.