Die uitbreking van bek-en-klouseer in KwaZulu-Natal (KZN) het die melkbedryf na verwagting reeds tot R40 miljoen gekos, sê Melk SA.
Mnr. De Wet Jonker, lid van die bek-en-klouseer-taakspan wat Melk SA aangestel het, sê sedert Suid-Afrika se grense ’n maand gelede vir die uitvoer van diere met gesplete hoewe gesluit is, het die Suid-Afrikaanse Melkverwerkersorganisasie (Sampro) al verskeie dringende navrae oor die situasie ontvang.
Daar is groot kommer oor hoewel plaaslike verwerkers se produkte aan standaarde voldoen, verskeie van die land se buurstate nie plaaslike melkprodukte wil invoer nie. Dié lande sluit in Botswana, Namibië, Lesotho, Zambië, Mosambiek, Uganda en Tanzanië.
Jonker sê van dié lande, soos Namibië, het, soos verwag, meer toegeeflik opgetree. Die meeste van die lande wil egter nie reageer totdat die Suid-Afrikaanse Regering sê hulle het die situasie onder beheer nie.
Vrae oor doeltreffendheid
Jonker sê met die verspreiding van die siekte na ’n voerkraal in Gauteng is hulle bekommerd oor die doeltreffendheid waarmee die Regering se planne deurgevoer word. “Die buffersone is uitgebrei en padblokkades word gehou, maar hoe doeltreffend is daardie padblokkades?”
Hy sê die land het verlede jaar sowat 34 000 ton melkprodukte uitgevoer, wat ’n inkomste van R500 miljoen gegenereer het. “Dit kom neer op tussen R40 miljoen en R42 miljoen per maand. Die verbod is nou reeds ’n maand van krag – so gegrond hierop skat ons die bedryf het reeds R40 miljoen ingeboet.”
Geld nie beskikbaar nie?
Intussen sê die TLU SA hy is uiters bekommerd oor die situasie, aangesien inligting wat hy betroubaar bekom het, aandui dat die R25 miljoen wat bewillig is om bek-en-klouseer te beperk, nog nie beskikbaar is nie.
Die organisasie sê sover hul kennis strek, is nog geen doeltreffende padblokkades gehou nie en word die bek-en-klou-beheerlyn nie in stand gehou nie. “Voorts het TLU SA inligting dat toetse wat in Engeland gedoen is, bevind het dat hier van ’n variant van bek-en-klouseer ter sprake is waarvan nog geen kliniese simptome beskikbaar is nie,” lui ’n verklaring.
Verliese vir Regering se rekening!
“Ons wil dit baie duidelik stel dat enige verliese deur boere weens die trae en onbeholpe hantering van die situasie vir die rekening van die staat sal wees. Ons eis dat inentings vandag nog begin en nie eers volgende week nie. Ons eis dat behoorlike wetstoepassing sal geskied om die verbod op die vervoer van vee af te dwing.
"Ons eis dat hierdie siekte met alle erns en spoedig beveg sal word sodat boere kan voortgaan om aan markte te lewer en dat hulle die minste finansiële verliese sal ly. Die tyd vir vergaderings oor die situasie het nou tot ’n einde gekom. Die tyd vir dringende optrede het nou aangebreek,” aldus mnr. Ben Marais, voorsitter van die organisasie.
25 Maart 2011