’n Groep boere in die bek-en-klouseer besmette gebied in KwaZulu-Natal skat dat hul verliese vir die afgelope paar weke en vir die komende maande sowat R29 miljoen kan beloop. Me. Sandy la Marque, uitvoerende hoof van Kwanalu, sê ’n klein groep kommersiële bees- en wildboere het aan ’n blitsopname deelgeneem.
Altesame 17 beesboere het aan die opname deelgeneem, en volgens skattings verwag hulle om ’n inkomste van sowat R16 miljoen net vir die verkoop van speenkalwers te verloor. Die verliese van 25 wildboere in dieselfde tydperk – van wie sommige ook beesboere is – is op R13 miljoen geskat.
“Hierdie verliese is net vir dié tydperk en komende maande. Dit reflekteer nog nie die verliese wat die boere moontlik mag ly in die venstertydperk van die drie jaar tot vyf jaar vorentoe nie,” verduidelik La Marque. Verliese in die arbeidsmark en aan toerisme is ook nie hierby in berekening gebring nie.
Duidelike pad vorentoe
La Marque sê hulle is bekommerd oor die feit dat die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye nie ’n duidelike pad vorentoe vir die bedryf en die land aangekondig het nie. “Sover ons bewus is, is nog geen nuwe uitbrekings aangeteken nie. Daar bestaan egter baie vrae oor wat dit presies is waarmee ons hier te doen het en hoe dit gehanteer gaan word.”
Volgens La Marque het hulle ’n vergadering met minister Tina Joemat-Pettersson aangevra, en hoop hulle om haar binnekort te sien.
Ligter protokol
Intussen sê die departement die voorwaardes vir die beweeg van diere in KwaZulu-Natal is aangepas. Luidens ’n verklaring is intensiewe toetse die afgelope agt weke in die bek-en-klouseer beheerde gebied in die noordelike dele van KwaZulu-Natal gedoen. Die ondersoeke het geen bewyse van aktiewe bek-en-klouseer of enige verspreiding van die virus opgelewer nie.
Gegewe die minder riskante profiel van die uitbreking het die Minister ’n ligter bewegingsprotokol uit die geïnfekteerde gebied aangekondig.
“Beweging van vleis wat uitgehang is om te droog, sowel as verouderde dierekarkasse, sal buite die bek-en-klouseer geïnfekteerde omgewing toegelaat word, aangesien dit ’n minimale risiko vir die verspreiding van die virus inhou. Lewende diere sal egter nie uit die geïnfekteerde gebied beweeg mag word nie,” lui die verklaring.
11 April 2011