
’n Jong Angus-teler, wat in die gemeenskappe by Vryburg in die Noord-Kaap én in Botswana bekend was, is vermoedelik aan ’n hartaanval oorlede. Die 41-jarige mnr. Janke Vosloo het Dinsdagoggend (1 Februarie) in die veld op sy plaas in die distrik Ghanzi in Botswana beswyk.
’n Hegte huisvriend van die gesin, mnr. Piet Delport van die Angus-stoetery Hide-Aways by Migdol, sê Vosloo se vrou, Martelize, het Dinsdagoggend ’n noodoproep om hulp per radio van hom gekry. Toe sy by die buitepos aankom, was hy reeds oorlede.
Vosloo, wat die Angus-stoetery Anvos bedryf het, was ’n Botswana-burger en het die afgelope twee jaar hoofsaaklik in die land gewoon. Hy het van sy grond by Vryburg verkoop waar sy familie baie bekend was. Sy pa, Jan, wat baie by die dorp se skoureëlings betrokke was, het sowat 14 jaar gelede sowat 3 km van sy woonplaas verongeluk.
Delport en sy vrou, Elsa, is baie geskok oor sy dood en het Vosloo as ’n joviale mens met ’n mooi persoonlikheid beskryf. Vosloo word deur sy vrou en twee jeugdige kinders, ’n seun, JF, en ’n dogter, Shandri, en sy ma, me. Gesina Vosloo, oorleef.