Een van Sudi-Afrika se bekendste ekonome, wat baie op die brandstofprys gefokus het, mnr. Tony Twine, is oorlede.
Luidens ‘n berig op Fin24.com het Twine Saterdag, 10 Maart 2012, in die Milpark hospitaal in Johannesburg gesterf nadat hy vroeër die week ‘n hartaanval gehad het. Hy was 57 jaar oud.
Landbou.com en Landbouweekblad het gereeld met Twine gesels oor die brandstofprys, wat ‘n groot invloed op die landboubedryf het. Hy was blind, maar ten spyte daarvan het hy altyd sy vinger op die pols gehad oor nasionale en internasionale kwessies wat veral die brandstofprys geraak het.
Twine het verlede jaar sy dertigste jaar as ‘n ekonoom gevier. Hy het in 1983 by die Econometrix-groep aangesluit, waar hy die afgelope paar jaar ‘n senior ekonoom was.
Twine het verlede week onder kritiek deurgeloop ná die vrystelling van ‘n verslag oor die moontlike voordele wat hidroliese breking en die myn van skaliegas vir Suid-Afrika se ekonomie kan inhou. Hy was die leier van die span wat ‘n ondersoek vir Shell gedoen het.
Bron: Fin24.com
12 Maart 2012