Mnr. Werner Ras, skakelhoof van Absa Agribesigheid en ’n bekende in landboukringe, is gistermiddag weens kanker oorlede. Ras, wat nog die begrotingsdebat vir landbou-ekonomie in Februarie gereël het, is op 25 Februarie in die Little Company of Mary-hospitaal in Pretoria opgeneem vir die verwydering van ’n kwaadaardige groeisel aan sy slukderm.
Tydens die operasie is ontdek dat fase 3-kanker na sy limfkliere versprei het en die risiko was te groot om die gewas te verwyder. Longkomplikasies en inwendige infeksie het veroorsaak dat sy toestand verder verswak het en hy was die meeste van die tyd die afgelope maand in die waakeenheid aan ’n ventilator gekoppel.
Ras was in die 1990’s ’n skakelbeampte by die Landbounavorsingsraad en later ook hoof van Agri SA se openbare en mediabetrekkinge voordat hy hom by Absa Agribesigheid aangesluit het. Hy was ook sedert 2004 ’n bestuurslid van Landbouskrywers SA se Noordstreek.
Wynliefhebbers sal hom onthou vir sy rol om ’n Pinotage-vereniging te help vestig, asook vir die organisering van ’n Absa-wyntent by die jaarlikse Klein-Karoo Nasionale Kunstefees op Oudtshoorn en ’n Absa wynproe-lokaal jaarliks by die Pretoriase Skou.
Landbou.com bring hulde aan ’n goeie vriend van die landbou en betuig graag sy meegevoel met naasbestaandes, vriende en kollegas.
1 April 2011