
’n Bekende in Suid-Afrikaanse kunsmiskringe, dr. Johan van Biljon (65), is ná ’n lang stryd met kanker in Centurion oorlede.
Hy was volgens die kunsmisvereniging van Suider-Afrika (Fertasa) 37 jaar lank een van die voorste wetenskaplikes op sy gebied in die kunsmisbedryf in Afrika. Sy loopbaan het as voorligtingsbeampte en raadgewer vir verskeie maatskappye begin. Hy was ook ’n lektor en waarnemende hoof van die departement grondkunde aan die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein.
Van Biljon het verskeie toekennings vir sy waardevolle werk ontvang, waaronder Fertasa se navorsingsmedalje in 1995 en 2011. Hy het tien jaar in die SA Vereniging vir Gewasproduksie se bestuur gedien en was in 2003 en 2009 die nasionale voorsitter.
Volgens Fertasa het Van Biljon bekend gestaan as iemand wat die praktiese sy van gewasproduksie werklik geken het. Hy was ook ’n kenner van die betrokke sake-omgewing en was ’n uitstekende bestuurder van tegniese beamptes wat tussen die boere werk.