Die voorsitter van Vrystaat Landbou, mnr. Louw Steytler, se vrou, Philiné, is Woensdagaand (21 April) in ’n ongeluk oorlede.
Mnr. Henk Vermeulen, die uitvoerende hoof van die VL, sê haar skielike heengaan is ’n groot skok en hulle is baie hartseer oor die verlies. Die ongeluk het plaasgevind toe die Steytler-egpaar ná ’n streekvergadering op Brandfort na hul plaas naby Luckhoff teruggekeer het.
Steytler was die genooide spreker by die geleentheid.
Fratsongeluk
Volgens Vermeulen het die egpaar naby Koffiefontein langs die pad stilgehou, want Steytler wou iets gehad het om te drink. Hy wou in die dorp inry, maar Philiné het gesê daar is koeldrank in die kattebak. Steytler het aan die regterkant van die pad afgetrek. Hy het die voertuig se ligte reggestel en Philiné het uitgeklim om die koeldrank uit te haal.
“’n Konstruksievoertuig, ’n bakkie, het reg op hulle afgery. Louw het vir Philiné geskree om agter die voertuig weg te kom, maar dit het net te vinnig gebeur. Hulle is van voor getref, en die bakkie is 40 m ver gestamp. Philiné is op slag dood,” vertel Vermeulen. Steytler het ligte beserings aan sy gewrig en nek opgedoen, maar die lugkussing wat uitgeskiet het, het sy lewe gered.
Philiné laat Steytler en drie kinders agter. Begrafnisreëlings sal later bekend gemaak word.
21 April 2011