’n “Beknopte” Kersfees word op volstruisplase verwag met die land se uitvoerstatus wat opeenhopings veroorsaak, sê die Volstruisbesigheidskamer (VBK).
Mnr. Anton Kruger sê verskeie boere het heelwat voëls wat nie deur die H5N2-virusuitbreking geraak is nie, teruggehou.
“Hulle het gereken hulle gaan die voëls terughou, want as die uitvoerstatus miskien binnekort herstel word, beteken dit dat hulle nie sowat R1 300 per voël gaan verloor nie.
"Intussen is die seisoen vir nuwe kuikens op ons en vir baie boere is dit tans moeilik om die volume diere op hul plase of groeiplase te bestuur,” verduidelik Kruger.
Europese Unie
Kruger sê die Europese Unie (EU) vergader later die week om verskeie kwessies, waaronder Suid-Afrika se volstruisbedryf se uitvoerstatus, te bespreek.
Hy sê ná die uitbreking van die virus op ’n plaas in die Oos-Kaap – wat ’n vroeër besluit om uitvoer buite die Klein-Karoo-vallei weer toe te laat – gepootjie het, het hulle weer ’n versoek tot die Regering en die EU vir uitvoerstatus gerig.
Die toetse waarvolgens die vroeër besluit op ys geplaas het, het serologiese tekens van die siekte gewys. “Ons vra hulle dus om die uitvoerstatus te heroorweeg, aangesien die laaste aktiwitiewe tekens van die virus laas in toetse van 9 Julie gevind is,” verduidelik Kruger.
Sewende ronde
Kruger sê hulle sit op hete kole om te hoor wat by dié vergadering besluit sal word, aangesien dit tans spitsverbruiktyd vir volstruisvleis in Europa is.
Hy sê in die Klein-Karoo is die sewende ronde toetse vir die virus onlangs in die vallei begin, en sowat 50% van die resultate is reeds ontvang. Al dié toetse se uitslae was negatief, en hy sê hulle hoop dat die res van die toetse dieselfde uitslae sal lewer.
Toetse word tans ook in die res van die land gedoen, en nog geen verdere tekens van die virus is opgespoor nie.
Intussen het die bedryf nuwe biosekerheidsmaatreëls ingestel. Kruger sê hulle het reeds 10 opleidingsessies vir boere oor dié maatreëls aangebied. Vooraf-ouditprosesse is ook tans op plase aan die gang om seker te maak die plase voldoen aan die vereistes. Formele ouditprosesse deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye sal later gedoen word.
15 Desember 2011