
Zambië gooi eersdaags sy deure vir besoekers oop om die beste van sy landbou te ervaar. Demonstrasies, slypskole en uitstallings oor vee, besproeiing, gewasse, werktuie, energie en verwerking word aangebied.
Boere wat Zambië wil besoek om nuwe moontlikhede daar te ondersoek, het binnekort die ideale geleentheid. Agritech Ekspo Zambië word van 27 tot 29 April in Chisamba, noord van Lusaka, aangebied.
“Namate die landbou in Zambië saam met veranderende tye beweeg, doen ons by Agritech Ekspo dieselfde. Boere moet hulle regmaak vir nog ’n indrukwekkende platform vir landbousake, landboutegnologie en B2B,” sê mnr. Coillard Hamusimbi, hoof van dienste en landbousake by die Zambiese nasionale boere-unie.
Die ekspo het ontwikkel
“Agritech Ekspo het ontwikkel in ’n naelstring wat streeks-, nasionale en internasionale boere, landbou-ondernemings, beleidmakers en ontwikkelingsagentskappe saambind in hul soeke na oplossings vir voortdurende probleme: toenemende plae, ongunstige weerstoestande, verswakking van grondgesondheid en vrugbaarheid, dalende produktiwiteit, onvoldoende besproeiing en meganisasie, en toenemende veesiektes.
“Vanjaar se skou is spesifiek bedoel om aan boere die vernuwings en sakekontakte te bied wat hulle nodig het om hul boerdery en landbou-ondernemings tot die volgende vlak te voer.”
’n Rekordgetal van 17 605 mense het verlede jaar die skou besoek. Vanjaar sal selfs meer klein-, opkomende en kommersiële boere na verwagting op die Golden Valley-landbounavorsingstrust se proefplaas in die middel van Zambië se landboustreek toesak waar die jongste boerderyprodukte en –dienste te sien sal wees.
Internasionale teenwoordigheid
Die drie dae lange skou sal boonop ’n groter internasionale teenwoordigheid hê met internasionale paviljoene uit onder meer Duitsland, Zimbabwe, die Tsjeggiese Republiek, Nederland, Brittanje en Frankryk.
Agritech Ekspo bied weer gratis werksessies en demonstrasies van masjinerie en produkte aan, en gewasproewe is ook te sien. ’n Nuwigheid vanjaar is gespesialiseerde landbou- nywerheidsones en demonstrasies van hooimaak en baal.
Die skou geniet wye steun uit die landboubedryf, met Afgri en John Deere wat as platinumborge terugkeer. Die goue borge is Action Auto, Agricon, BHBW, Case Construction, Case Agriculture, Gourock en Saro
NAVRAE: Taryn van Zanten, e-pos: taryn.vanzanten@spintelligent.com
Tel. 021 700 3500.