
Die eiendomsbelasting wat die munisipaliteit Beaufort-Wes van boere verhaal het, is wel wettig is, is in die Wes-Kaapse Hooggeregshof beslis.
Carryn-Anne Nel skryf in Die Burger dié uitspraak volg nadat die vereniging ’n siviele geding teen die munisipaliteit aanhangig gemaak het. Die vereniging het die munisipaliteit se belastingbeleid betwis en aangevoer dat sekere wetlike vereistes nie nagekom is nie.
Die vereniging het nie die afgelope drie jaar se belasting betaal nie en het die hofsaak verlede jaar aanhangig gemaak. Volgens die munisipaliteit beloop die agterstallige bedrag R3,6 miljoen.
'Tekortkominge in proses'
Regter André le Grange het beslis hoewel daar tekortkominge in die proses was, dit nie tot gevolg gehad het dat die belasting onwettig was nie.
Mnr. Louis Reynolds, een van die boere in die distrik, is baie teleurgesteld deur die beslissing. “Ons kry geen teenprestasie van plaaslike owerhede nie, maar tog moet ons belasting betaal,” het hy aan Gerrit Schaafsma van Landbou.com gesê. Hy kla dat boere feitlik geen dienste van die munisipaliteit ontvang nie maar aanspreeklik gehou word teen ’n onaanvaarbare en onvolhoubare eiendomsbelastingkoers.
Hy is ook ontsteld oor hoe die munisipaliteit boere in die distrik gehanteer het nadat hulle oor die nuwe koers gekla het. Van die boere het selfs by mnr. Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van omgewingsake, en by Helen Zille, die premier van die Wes-Kaap, vir ondersteuning gevra, maar sonder welslae. Reynolds is bekommerd dat boere wat nou die agterstallige belasting moet betaal nie die mas gaan opkom nie. “Van die boere sukkel reeds, as hulle moet kies tussen belasting betaal of voer koop vir hul diere, wat gaan hulle dan doen?”
Bron: Die Burger