Beweerde belastingbedrog het die veebedryf aan die gons.
Tientalle boere in die Vrystaat en die Noord-Kaap kan strafregtelik vervolg word nadat die SA Inkomstediens (SAID) vasgestel het talle boere verklaar glo die verkope van beeste valslik as die verkope van mielies – blykbaar met die aanmoediging van hul agente. Landbou.com het ook gister daaroor berig.
’n Belastingkoers van 14% word op die aankope van beeste gehef, terwyl die aankope van mielies vry is van belasting op toegevoegde waarde (BTW).
Mnr. Adrian Lackay, woordvoerder van die SAID, het bevestig dat sowat 80 boere in die twee provinsies oor die kwessie genader of vir ondersoek geïdentifiseer is.
Sowat 29 van dié gevalle is reeds ná ’n oudit aan die SAID se eksterne ondersoek-eenheid oorhandig. Die diens beoog om ná verdere ondersoek die beweerde oortreders strafregtelik te vervolg.
Die meeste van die 29 boere het reeds erken dat hulle beesteverkope as mielieverkope verklaar het en gee hul samewerking in die ondersoek, sê Lackay. Hy sê die ondersoek fokus ook op sekere agente en handelaars in die bedryf wat dié soort bedrog glo onder boere aangemoedig het.
Hy het dit duidelik gestel dat nie noodwendig ál die boere wat geïdentifiseer is, oortree het nie. Lackay wou nie sê watter boere is nie. Hy sê die omvang van die beweerde bedrog sal eers vasgestel kan word as die ondersoek afgehandel is.
“Ek weet dat ons optrede reeds ’n groot gegons onder alle belanghebbendes in die veebedryf veroorsaak. Ons doelwit sal wees dat oortreders in die hof skuldig bevind word, maar nou is ons nog in die ondersoek-fase. Sodra alle sake ondersoek is, sal ons met die vervolgingsproses begin.”
Volgens Lackay is dit deel van talle ongerymdhede ten opsigte van belasting waarvan die SAID die afgelope tyd bewus geword het en wat bykomende oudits meebring.
Op ’n vraag van Landbouweekblad het hy egter ontken dat dié kwessie BTW-terugbetalings aan boere in die algemeen vertraag.
5 Mei 2011