
Samesprekings sal binnekort plaasvind met die Namibiese regering ná erf- en grondbelasting in die land sowat twee maande gelede aansienlik verhoog is.
Mnr. Harald Marggraff, bestuurder van bedrywe by die Namibiese Landbou-unie (NLU), sê hulle het verlede week op die organisasie se jaarkongres opdrag van afgevaardigdes gekry om met die staat oor dié verhogings te onderhandel.
“Ons grondbelasting op plase het met enigiets tussen 200% en 630% gestyg,” vertel Marggraff. Hy sê boere in die land moet dié hoë koste saam met stygende produksiekoste absorbeer. Produksiekoste vir die lewendehawe-bedryf in Namibië het van middel 2007 tot middel vanjaar met sowat 70% gestyg.
Die landboubedryf maak sowat 4,2% van Namibië se ekonomie uit. Lewende hawe is die sterkste landboubedryf, wat sowat 2,3% tot die ekonomie bydra, terwyl akkerbou en bosbou se gesamentlike aandeel 1,9% is.
Wettig
Volgens Marggraff bestaan vrae oor die wetlike bepalings van dié verhogings. Hy sê die staat het sowat 10 jaar gelede ’n prosedure ingestel om erfbelasting en die waarde van eiendom en grond te bepaal. Die eerste verhoging het vyf jaar ná die instelling van dié prosedure gevolg, “en dit was bekostigbaar.”
Dié tweede aanpassing is egter nie bekostigbaar en of regverdigbaar nie. Volgens die wetlike bepalings van die prosedure mag die drakrag van grond in berekening gebring word met die bepaling.
Faktore wat nie in berekening gebring mag word nie, is toerismewaarde, mynboupotensiaal en die plaas se afstand van die naaste dorp af. “Wat ons egter nie kan verstaan nie, is hoe ’n verskil van tot 100% kan bestaan tussen aangrensende plase wat dieselfde drakrag moet hê?”
Marggraff sê volgens die staat is die aanpassing gegrond op die styging in plaaspryse die afgelope vyf jaar.