Daar was nog nooit so ‘n goeie tyd om in die landbou te belê soos nou nie, sê mnr. Ernst Janovsky, landbou-ekonoom van Absa AgriBesigheid.
Hy was ‘n spreker op ‘n Vrystaat Landbou-boeredag wat Woensdag (2 Februarie) plaasgevind het.
Rentekoerse is die laagste in amper 40 jaar, en die rand die sterkste in jare. Dit word ook verwag dat die landbou se winsgewendheid in die volgende paar jaar gaan toeneem. Janovsky meen nou is dus die tyd om in grond, nuwe toerusting en tegnologie te belê.
Stygende grondpryse
“Wêreldwyd wil almal in boerdery belê, want dit is nog een van die min plekke wat ‘n goeie rendement op jou kapitaal gee. Ek weet van (belegging-)fondse wat nou jou plaas sal koop en jou teen ‘n goeie salaris as bestuurder aanstel,” vertel Janovsky
Hy het bygevoeg dat grondpryse in Suid-Afrika teen 10% per jaar styg omdat plase nie net deur boere gekoop word nie, maar ook deur die sogenaamde lewenstyl-kopers en die Regering (vir grondhervorming).
Graanpryse
Janovsky meen die skerp styging in graanpryse die afgelope maande het dié markte permanent tot ‘n hoër vlak laat spring. ‘n “Vraag-verskuiwing” (na ‘n permanent hoër vraag) het plaasgevind, want hoewel meer geproduseer word, hou pryse steeds aan styg.
Hy voorsien ‘n plaaslike mielieprys van rondom R1 600 per ton teen oestyd, maar voeg by dat die rand-dollar-wisselkoers die een groot onsekerheid is wat dié prys kan bepaal. Hy voorsien dat dit rondom R7 gaan beweeg.
Janovsky voorspel ook goeie vleis- en veepryse vir 2011. Lees meer in die Landbouweekblad van 11 Februarie.
3 Februarie 2011