
“Dis die soort goed waaroor landbou-organisasies jare lank al waarsku!” Dít is die reaksie van mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, ná mediaberigte dat miljoene dollars se beleggings in die Vrystaat in gedrang is ná ’n Amerikaanse plaasbestuurder op ’n plaas naby Ladybrand aangeval is.
Dr. Stephen Rogers, die voorsitter van die boerderymaatskappy SBH Farms, het volgens Volksblad opgemerk dat dit nie meer vir hulle moontlik is om in gevaarlike omstandighede te werk nie. Rogers en mnr. Allen Rogers, die slagoffer, is broers.
Stephen sê, as verteenwoordiger van ’n groep beleggers van Amerika en elders, hulle het ’n “kans gevat om in die nuwe Suid-Afrika te belê.” Hul vermoëns om ’n verskil te maak, word toenemend deur misdaad oorweldig.
Nie moontlik om so te werk
Hy sê hul lewens is die heeltyd in gevaar en dit is nie moontlik om so te werk nie.
“Ons het op lang termyn in die toerisme en landbou belê en het miljoene dollars se buitelandse beleggings ingebring, asook baie werk in die Oos-Vrystaat geskep. Ondanks die dringende behoefte vir ’n herlewing in die landbousektor in hierdie deel van die land, en die behoefte aan nuwe idees, vind ons dat ons eie asook die publiek se vermoëns om ons lewe en eiendom te beskerm, oorweldig word.”
Allen word tans in ’n hospitaal in Bloemfontein behandel na hy en me. Mandy Rynhoud, sy vriendin, Maandagaand (13 Augustus 2012) op die plaas Geluk aangeval is. Die twee aanvallers het hom glo ingewag terwyl Rynhoud vasgebind is.
Staat
Möller sê dié gebeure is ’n aanduiding dat die staat dringend iets moet doen om armoede en werkloosheid in die land aan te pak.
“Dis onverantwoordelike optrede deur individue wat tot sulke dade lei. Maar wanneer daar soveel armoede in ’n land is, gee mense nie om vir die groter prentjie nie. Mense in hopelose omstandighede gee nie om oor die groter prentjie nie.”
Die opstandighede kan net verbeter word deur verantwoordelike arbeidswetgwewing in te stel, meen Möller.
Bron: Volksblad