Beleggings van bykans R800 miljoen gaan deur ’n landboumaatskappy in Suid-Afrika en ander Afrikalande gedoen word.
Dit vorm deel van hul planne om die verkope van landbouwerktuie en voedselproduksie groter momentum te gee. Dié aankondiging is op ’n perskonferensie tydens die Groen Week, ’n verbruikerskou in Berlyn, Duitsland, gedoen deur mnr. Hubertus Mühlhäuser, senior ondervoorsitter en hoofbestuurder van die landbouwerktuigvervaardiger AGCO in Europa, Afrika en die Midde-Ooste.
Hy het gesê plaasproduktiwiteit moet in die lig van die groeiende wêreldbevolking en vraag na voedsel styg. Professionele plaaswerktuie is een van die sleutelfaktore waarmee voedselproduksie vergroot kan word, veral in Afrika, China, Rusland, Brasilië en Oos-Europa. Meganisasie sal dus ’n dryfveer wees in lande met baie landbougrond, maar wat nog ondoeltreffende, ou werktuie gebruik.
Potensiaal
“ ’n Vasteland soos Afrika het groot potensiaal met sy bevolking van meer as 1 miljard, maar net 11% van die wêreld se bewerkbare grond, waarvan 86% nie bewerk word nie. ’n Gebrek aan infrastruktuur, meganisasie en tegnologie skep ’n behoefte aan markgerigte samewerking tussen boere, die private sektor en regerings,” het hy gesê.
Die maatskappy, met bekende name soos Massey Ferguson, Valtra, Challenger en Fendt in sy stal en wat deur 2 600 onafhanklike handelaars in meer as 140 lande verteenwoordig word, beoog modelplase en opleidingsentrums in Suid-Afrika, Zambië, Ethiopië, Marokko, Libië en Algerië.
Boere sal daar opgelei word om nuwe plaastegnologie te gebruik. Hulle wil 10 000 boere per plaas in die volgende twee jaar oplei. ’n Moderne pakhuis vir onderdele word ook in Johannesburg gebou om die tydige verskaffing van onderdele te verseker.
1 Februarie 2012