
Die beleggingsbeheermaatskappy Sakhumnotho Group Holdings (Sakhumnotho), wat deur ’n familie van swart beroepslui besit word, het gister (17 Februarie) ’n 51%-belang in die African Seeds Group (ASG) bekom. Luidens ’n verklaring wat deur dié twee maatskappye uitgereik is, verhef hierdie transaksie ASG se status tot ’n vlak 2-SEB- (swart ekonomiese bemagtiging) diensverskaffer.
Luidens die verklaring sal dié status ASG in staat stel om regstreeks aan regerings- en ander institusionele verskaffingsprosesse deel te neem. Terselfdertyd plaas dit die maatskappy in ’n beter posisie plaas om “die snelgroeiende mark vir opkomende boere in Suid-Afrika te bedien”.
Verder word gesê dat die Suid-Afrikaanse landbou, veral die opkomende boerderygemeenskap, dikwels oor die hoof gesien word deur groot landboumaatskappye. Dit het struikelblokke vir toetrede wat betref toegang tot produkte, onderrig, opleiding en ontwikkelingsgeleenthede tot gevolg.
Mnr. Mihan Louw, uitvoerende hoof van ASG, sê in die verklaring die maatskappy is sedert 2018 daarop toegespits om opkomende boere van die beste moontlike groente- en akkerbousaad, chemikalieë, bemesting en ander landbou-insette te voorsien. “Ons glo dat opkomende boere hierdeur bemagtig word om hul produksie te verhoog en hul plase in suksesvolle ondernemings te omskep wat ’n gunstige bydrae tot hul gemeenskappe lewer.”
Prof. Sipho Mseleku, uitvoerende hoof van Sakhumnotho, sê in die verklaring dat die verkryging van meerderheidsaandeelhouding van ASG sy Pan-Afrikaanse maatskappy stukrag sal gee om sy mandaat uit te voer om Afrika se volle potensiaal te ontsluit.
“Ons is opgewonde oor ons vennootskap met ASG, asook die groter Zaad-groep, wat ASG se beheermaatskappy bly. Ons glo dat Afrika se landboupotensiaal nog nie ten volle ontgin is nie en erken dat wesenlike belegging in dié sektor nodig is om die vasteland se potensiaal te ontsluit. Dié transaksie brei ons betrokkenheid by die landbousektor uit en stel ons in staat om in die toekoms ’n groter rol in dié sektor te vervul.”