Mnr. Janse Rabie, hoof van wetgewing en beleid by Agri SA, sê dit is altyd goed om aandag te gee aan die verbetering van die lewenstoestande van plaaswerkers, maar die praktiese uitvoerbaarheid van die departement van water en sanitasie se konsepbeleid is ’n groot bekommernis.
Die konsepbeleid strek wyer as net landbougrond en geld vir enige grond in private besit waar daar mense woon wat nie die eienaars van die grond is nie. Dit is op 22 November vir kommentaar in die Staatskoerant (nr. 47558) gepubliseer.
Daarvolgens moet private grondeienaars basiese waterdienste verskaf aan hul werknemers en dié se families wat op die grond woon. Waterdienste-owerhede moet verseker dat die dienste gelewer word. Waar grondeienaars as waterdienste-tussengangers optree, moet die owerhede hulle identifiseer, registreer en reguleer.