Te midde van wat moontlik een van die grootste uitbrekings van bek-en-klouseer in Suid-Afrika is (volgens ’n beampte van die departement) het die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye ’n kennisgewing van ’n beleidsvoorstel – dat die invoer van lewende diere met gesplete hoewe uit lande sonder bek-en-klouseervrye status van die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE) toegelaat word – in die Staatskoerant gepubliseer. Die voorstel sluit wel die invoer van buffels uit sulke lande uit.
Landbou.com het ’n afskrif van die voorstel, wat op 22 Maart 2011 gepubliseer is, ontvang. Volgens die kennisgewing nooi me. Tina Joemat-Pettersson, die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, alle betrokke partye uit om kommentaar op dié voorstel te lewer.
Kommentaar moet die departement teen 24 Junie 2011 bereik.
Die voorstel
Die departement sê die land se politieke leierskap en die sakewêreld sit met die situasie dat hulle moet verduidelik hoe om die handelswanbalans tussen Suid-Afrika en ander SAOG-lande en lande in die Afrika-unie aan te pak.
“Die voormalige en die huidige President van Suid-Afrika het die uitbrei van handel tussen lande in Afrika, op die grondslag dat Suid-Afrika sy markte vir die res van Afrika moet oopstel, voorgestaan en ondersteun”, lui die dokument.
Volgens die departement hersien hulle tans die bestaande beleidsbesluit – dat die land se grense vir sulke invoer gesluit moet wees – om ’n nuwe beleidsraamwerk te kan saamstel.
“Die beoogde handelsaktiwiteite sal steeds onderneem word binne die wyer en aanvaarde internasionale riglyne en reëls”, aldus die voorstel.
Twee beleidsmoontlikhede word voorgehou, naamlik:
1. Om die huidige status quo te behou en nie die invoer van diere met gesplete hoewe uit lande sonder bek-en-klouseervrye status toe te laat nie.
2. Om die diere met gesplete hoewe uit lande sonder bek-en-klouseervrye status te oorweeg, gebaseer op risiko-analises wat voor die handelsproses gedoen moet word.
Kommer
Intussen is die veebedryf baie bekommerd oor dié voorstel en is dit onlangs tydens ’n vergadering van die Rooivleisbedrysforum in detail bespreek.
Die TLU SA sê: “Dit sou uiters roekeloos wees om enigsins oorweging te wil skenk aan die invoer van diere uit gebiede buite ons grense. Ons eie land binne ons grense is nie eens beveilig nie en die Regering toon tot dusver geen vermoë om bek-en klouseer doeltreffend te bekamp nie. Dus het ons hoegeneemd géén vertroue dat daar behoorlik beheer oor ingevoerde diere sal wees nie”.
31 Maart 2011