
Daar moet wegbeweeg word van onderhandelinge ten opsigte van die minimumloon, na ’n situasie waar lone op werkers se vaardighede berus, het mnr. Alan Winde, Wes-Kaapse minister van ekonomiese ontwikkeling, landbou en toerisme, by 'n dialoogsessie tussen werkers en boere naby Stellenbosch gesê. “Die bedryf sal net sy volle potensiaal in terme van ekonomiese groei en werkskepping kan bereik as daar doeltreffend geboer word.”
Dis ook nie die beste individuele spelers wat ’n sportspan laat wen nie, maar die krag van ’n span in sy geheel. Net so is produsente en plaaswerkers interafhanklik van mekaar vir die sukses van ‘n plaas. Dit was die boodskap van Dr. Braam Hanekom, moderator van die NG Kerk tydens die dialoogsessie gesê. Dit is die eerste van vier sessies wat deel vorm van die Wes-Kaapse departement van landbou se twaalfpuntplan om harmonie in die bedryf te bevorder.
Hanekom het gesê dat die plaas 'n plek moet wees waar drome gedroom kan word – produsente moet kan droom dat daar vir hulle en hul kinders nog ‘n toekoms op die plaas is. Werkers moet kan droom van ‘n beter toekoms vir hulle en hulle gesinne. So sal ’n kultuur van wedersydse respek geskep word, waar mense net die beste vir mekaar wil hê.
Me. Joyene Isaacs, hoof van die Wes-Kaapse departement van landbou, het gesê dat dié departement net die platform vir hierdie gesprekke kan skep. Die sukses daarvan sal egter afhang van die bedryfslede wat daaraan deelneem.
Sy het gesê dat alhoewel geld die hooftema tydens stakings in die provinsie was, verhoudings die eintlike probleem is. Boere en werkers moet dus verhoudings opskerp sodat daar in die toekoms beter kan gereageer word op soortgelyke situasies. “Die myne is ’n goeie voorbeeld van hoe dinge kan verkeerd loop as daar nie goeie kommunikasie tussen mense is nie,” het sy gewaarsku.
Isaacs het gesê dat daar baie meer suksesverhale as slegte kolle in die bedryf is en dat boere en werkers van verskillende plase en areas die beginsels van hulle sukses met mekaar moet deel. “Vermy duur skoolgeld deur van ander te leer.”