
Dr. Annette Saaiman, ’n praktisyn in Oosterse medisyne, het op die bemarkingsimposium van Subtrop op Witrivier gesê Chinese kos word volgens energietemperatuur en smaakgroepe geklassifiseer.
“Die Chinese verbruikers dink byvoorbeeld komkommers en tamaties is aan die koue kant van die spektrum, terwyl rissies, gemmer en knoffel warm is. Mango’s en avokado’s is koel en makadamias en lietsjies is warm.” Volgens haar het dit niks te doen met die werklike smaak of temperatuur nie, maar wel met die uitwerking op liggaamsenergie en balans – ook bekend as Qi, Yin en Yang.
“ ’n Mens moet die konsep van Qi verstaan om te verstaan hoe Chinese verbruikers die wêreld sien en produkte kies,” sê sy. Avokado is goed vir die dikderm, lewer en milt, mango vir die maag en makadamias help vir artritis. Saaiman sê in die Ooste is kos en medisyne dieselfde ding en boere moet die medisinale waarde van hul produkte ken en dit dienooreenkomstig bemark.