
Die sonskynweer wat vir die volgende paar dae vir die opvangsgebiede van die Oranje- en Vaalrivier voorspel word, is goeie nuus vir boere aan die Benede-Oranjerivier.
Mnr. Wilco Fourie, voorsitter van die Oranjerivier-landbou-unie, monitor daagliks die departement van water en sanitasie se dam- en watervlaksyfers. Hy sê hoewel die betrokke boere steeds van vandag af vir sowat drie dae groot stygings in die rivier se watervlak sal ervaar, en dit minstens vir nog ’n week stadig gaan styg, lyk dit asof die hoogtepunt van einde volgende week af bereik sal word.
Dié verwagting is gegrond op sonskynweer die volgende paar dae in die opvangsgebiede.
Die hoogtepunt in die watervloei van die Benede-Oranjerivier sal na verwagting steeds rondom 4 000 kumek wees, wat sowat 1 000 kumek meer is as verlede jaar s’n en ook meer as begin vanjaar se hoogtepunt.
Skerp styging deur geleidelike styging gevolg
Volgens die departement van waterwese en sanitasie se syfers op 21 Januarie blyk dit dat die uitvloei by die Bloemhofdam vir nog ’n paar dae 2 000 kumek gaan wees.
Fourie sê die departement verwag verder dat die hoogtepunt van die Vanderkloofdam se uitvloei rondom Maandag 24 Januarie en Dinsdag 25 Januarie sowat 1 800 kumek sal wees, wat laer is as wat aanvanklik verwag is.
“Die watervloei by Prieska gaan, weens die verhoging vanuit die Bloemhofdam, nog skerp styg oor die naweek, tot ongeveer 3 600 kumek, waarna dit stadig verder gaan toeneem met die toename vanuit die Vanderkloofdam.”
Op 21 Januarie was die watervloei by Katlani, die eerste meetpunt ná die samevloeiing van die Oranje- en Vaalrivier, 3 088 kumek. By Prieska was dit 2 670 kumek en by Upington 2 234 kumek.
Fourie sê dié syfers sal na verwagting vandag en oor die naweek vinnig styg, dan op ’n hoë vlak afplat, en dan wéér stadig begin styg, weens die geleidelike styging in uitvloei vanaf die Vanderkloofdam, tot by die verwagte hoogtepunt vanaf einde volgende week.
“Die Vaal- en Gariepdam se invloei begin nou mooi afneem en daar word min reën vir die volgende vyf dae oor die grootste deel van Suid-Afrika voorspel. Dit is alles goeie nuus,” sê hy.