Die Benguela-seestroom se groot mariene-ekosisteem (BCLME) kom Vrydag (25 Maart) in Stellenbosch onder die loep as vyf ministers van Angola, Suid-Afrika en Namibië dit tydens ’n buitengewone ministeriële konferensie bespreek.
Luidens ’n verklaring sal die ministers wat vir mariene-sisteme en die bestuur van marienebedrywe en -omgewingsbewaring in die onderskeie lande verantwoordelik is, die vordering van die Benguela-seestroom-kommissie bespreek. Me. Edna Molewa, Suid-Afrika se Minister van Omgewingsake en Waterwese, is die voorsitter van die kommissie en sal die konferensie lei.
Institusionele kapasiteit
Die konferensie sal grootliks fokus op die bou van institusionele kapasiteit. Die ministers sal na verwagting ook ingelig word oor die vordering rondom ’n ooreenkoms wat hulle wetlik verbind om die stigting van die kommissie te formaliseer. Die drie lande hoop om die konvensie vir die kommissie teen volgende jaar af te handel.
“Deur middel hiervan sal die lande die unieke karakter van die BCLME erken en hulle daartoe verbind om gesamentlik verantwoordelikheid vir die volhoubare bestuur daarvan te aanvaar,” lui die verklaring.
Die kommissie is deur die drie lande op die been gebring sodat hulle die biologiese integriteit van die seestroom kan herstel en vir die toekoms behou. Die BCLME strek van Port Elizabeth tot by die Angolese provinsie Cabinda in die noorde van dié land. Die ekosisteem ondersteun belangrike ekonomiese aktiwiteite, soos visbedrywe en die myn van olie en gas. Dit word gesien as een van die produktiefste ekosisteme ter wêreld.
25 Maart 2011