
Onbenutte staats- en kommunale grond kan ingespan word vir die behoefte aan grond en voedselsekerheid.
Mnr. Kobus Marais, DA-LP, het dié boodskap aan mnr. Ebrahim Patel, Minister van Ekonomiese Ontwikkeling, oorgedra toe Patel sy begrotingsrede in die Parlement gelewer het.
Marais het uitgewys hoe die Regering ’n verskil kan maak deur verskillende werkdrywers toe te pas. Een hiervan is om die ekonomiese en werkskeppingspotensiaal wat die landbou bied, te ontsluit deur van staats- en kommunale grond gebruik te maak.
Verder het hy die Regering gevra om die Wes-Kaapse model van gedeelde aandeleskemas tussen plaaswerkers en boere te oorweeg. Dit is reeds 80% suksesvol. Hy het ook voorgestel dat die huidige arbeidsregime omskep word om beide werkers en werknemers te ondersteun binne die breër doelwitte van die Nasionale Ontwikkelingsplan en dat ongekwalifiseerde steun aan die doelwitte en strategieë van die NOP gegee word.
Patel het in sy begrotingsrede die Nasionale Vergadering daarop gewys dat ongelykheid die wortel van menige van die maatskaplike skeidings en probleme by nywerheidsverhoudinge is, wanneer werkers die voordele van ekonomiese groei sien wat onregverdig verdeel word. Daarom moet elke ekonomiese program en samesprekings gebruik word om ’n inklusiewe ekonomie te bou.
Hy het die die landboumaatskappy Afgri as voorbeeld gebruik. Patel het gesê hy het verlede jaar ’n buitelandse belegger ontmoet wat Afgri wou koop. ’n Ooreenkoms is bereik wat in lyn met die Mededingingswet se vereistes van openbare belang is. Die ooreenkoms was dat die nuwe eienaars R90 miljoen se steun aan kleinskaalse boere sal gee vir opleiding, mentorskap en lenings. Boonop sal ’n korting van 40% op stoorkoste aan produsente gegee word wat minder as tien ton graan wil stoor.
Dit beteken dat gesinne wat sukkel om ’n bestaan op grond te maak, nou die ondersteuning, mentorskap en geld het om die hoofstroom-ekonomie binne te gaan.
Met die geld uit skikkings met Pioneer Foods en Walmart, sal R580 miljoen se ondersteuning aan kleinskaalse produsente en plaaslike verskaffers gegee word, het Patel gesê.