
Die eerste vergadering tussen die Regering en Agri SA ná die ooreenkoms verlede jaar, het nie plaasgevind nie.
Dit sou Woensdag 14 Januarie plaasvind en tot Donderdag, 15 Januarie, duur.
Me. Sandy la Marque, van KwaNalu, hoof van Agri SA se werkgroep vir grondhervorming, het Woensdag in Johannesburg opgedaag, net om ’n e-pos te ontvang wat meld dat die vergadering nie meer kan plaasvind nie.
Blykbaar was ’n aantal van die afgevaardigdes van verskeie regeringsdepartemente nie beskikbaar is vir die beoogde vergadering nie.
“Dit is teleurstellend, maar nie ’n krisis nie. Die vergadering gaan geherskeduleer word na ’n tans onbekende datum,” het La Marque bevestig.
Hoewel dit ’n swak begin is vir wat ’n samewerkingsooreenkoms behoort te wees, was La Marque nie te bekommerd nie. Sy is steeds positief oor die toewyding van die staat aan hierdie saak.