
Terwyl beperkinge op die vrystelling van skadelike kweekhuisgasse nog in ’n loodsfase en vrywillg is, lyk dit nie of dit ’n invloed op maatskappye se produksie het nie, maar in ’n verpligte fase, kan dit wel hê.
Mnr. Theo Boshoff, bestuurder van regsinligting by die landbousakekamer Agbiz, sê uit ’n ontleding van ’n verslag van die Departement van Omgewingsake oor die loodsfase van vrywillige beperkinge op die vrystelling van skadelike gasse, lyk dit ook nie of dit veel invloed op maatskaplik-ekonomiese ontwikkeling of landelike gemeenskappe het nie.
Suid-Afrika, as ’n deelnemer in die Verenigde Nasies se raamwerkonvensie oor klimaatsdverandering (UNFCCC), is onderhewig aan ’n sogenaamde “koolstof-begroting” wat bepaal hoeveel skadelike gasse ’n land oor ’n tydperk mag vrystel. ’n Land kan self bepaal hoe hy sy beperkende begroting hanteer en kan dit tussen verskillende sektore verdeel.
Voordele en nadele
Volgens Boshoff is daar in die eerste fase tot 2020 geen verpligte beperkinge nie, maar sommige maatskappye is gevra om in ’n loodsprojek te werk aan die vermindering van skadelike gasvrystellings in ruil vir belastingaansporings. Terselfdertyd is daar ’n studie gedoen oor die maatskaplike-ekonomiese invloed daarvan en dit is dié verslag wat nou bekend gemaak is.
Van die ander bevindinge in die verslag is dat die stygende koste van elektrisiteit en arbeid waarskynlik beleggings in hernubare energie sal aanmoedig, dat die koste van implementering en monitering deur omgewingspesialiste ’n beperkende faktor sal wees en dat dit ’n negatiewe invloed op die staat se belastinginkomste sal hê.
Volgens Suid-Afrika se verbintenis tot die UNFCCC kan die vrylating van skadelike gasse nog tot tussen 2020 en 2025 ’n hoogtepunt bereik, maar daarna moet dit konstant bly vir ’n maksimum van 10 jaar en dan stelselmatig afneem tot die “begroting” teen 2050 opgebruik is.