
Mnr. Hennie Human, slagofferondersteuningsbeampte van AfriForum se trauma-ondersteuningseenheid, het op ’n AfriForum-konferensie in Pretoria oor boere en die reg gesê dit is dalk tyd om aandag te gee aan die verromantiseerde beeld wat mense van boere het.
“ ’n Boer is nie iemand wat deur trauma kan gaan sonder om geraak te word nie. Ons moet onthou, agter die boer wat ons ken, is ’n boer met ’n hart en emosies.”
Boere se “emosionele veiligheid” is volgens Human onlosmaaklik van hul fisieke veiligheid. Hy ervaar egter dat daar by boere en hul gesinne onsigbare trauma is waaroor hulle dikwels nie wil praat nie.
Daar is ’n siening dat ’n boer en sy gesin reeds baie kwessies in hul lewens moet pak, soos die natuur se uitwerking op die boerdery, en dat hulle daarom nie durf wys dat ’n plaasaanval hulle raak nie.
Dikwels het baie mense al vergeet van ’n betrokke plaasaanval, maar die boer en sy gesin ervaar steeds trauma as gevolg daarvan. Omdat die geweld tydens sulke aanvalle toegeneem het, het die trauma ook toegeneem.
Human het gesê die emosionele impak van plaasaanvalle word gesien in ’n boer en sy gesin se vrees en angs. ’n Boer sal sê dit gaan goed, maar die gesin wil dikwels nie teruggaan na die plaas nie. Daar word egter van hom verwag om dit te doen uit lojaliteit teenoor die plaas, sy familie en sy geskiedenis.
’n Aanval begin egter ’n onwillekeurige neurologiese proses by slagoffers wat vir hulle baie angs en vrees meebring. Hulle sukkel maande lank om te slaap en hul eetgewoontes verander. Hoewel die gemeenskap hulle help, voel hulle dikwels dat hulle alleen staan.
“Ons praat met mekaar daaroor, maar ons praat nie in diepte nie.”
’n Mens moet besef dat die belewing van ’n plaasaanval ’n ongelooflike merk op die boer, sy gesin en dikwels ook sy werkers los.
Human het gesê slagoffers beleef die aanval telkemale weer, onder meer wanneer hulle op die plek op die plaas kom waar dit gebeur het. Sommige boere vermy dié plekke, omdat dit hulle herinner aan wat daar gebeur het.
Dit gebeur dat ’n boer onverwags deur sy emosies oorval word. ’n Boer het al aan hom gesê: “Ek sit dan sommer net (in die bakkie) en huil, want ek het nooit gedink dit sal met my gebeur nie.”
Human het gesê as die trauma nie opgelos word nie, bly die plaas vir die boer ’n onveilige plek. Boere voel hulle het beheer verloor oor hul lewe en kan nie meer soos voorheen funksioneer nie. Hulle wonder of dit nog die moeite werd is om voort te boer, selfs al het hul voorgeslagte op die plaas geboer.
Boere vra hulself af of hulle hul gesinne weer aan ’n moontlike plaasaanval en emosionele trauma wil blootstel.
Boere voel dikwels hul emosies dryf hulle só ver dat hulle nie meer logies kan dink nie en dat dit hul verhoudings met ander mense raak.
Gemeenskap se trauma
Human het gesê plaasaanvalle en -moorde raak ook die plaaslike gemeenskap baie nadelig. “Gemeenskappe begin vrees en angs oor hul veiligheid opbou.”
Boeregemeenskappe begin vra wat hul toekoms is. Human het gesê daar word ’n geheue van trauma opgebou in gemeenskappe wat geweld ervaar het.
Plaasaanvalle word deel van die gemeenskap se gesprek en speel ’n rol in sy verhouding met ander gemeenskappe. Trauma word ook van generasie na generasie oorgedra.
Human het die landbougemeenskap aangemoedig om by organisasies soos boereverenigings en buurtwagte aandag te gee aan “emosionele onveiligheid”, om kenners se hulp in te roep en gesprekke daaroor te voer.
AfriForum het ’n trauma-eenheid wat onder meer berading, ontlonting en emosionele ondersteuning aan slagoffers bied. Emosionele bystand word gebied wanneer slagoffers in die hofsaak oor die voorval moet getuig of getuienis moet aanhoor en die voorval dan as’t ware weer beleef.