‘n Media-herrie rondom Supreme Poultry se herverpakkingspraktyk het blykbaar nie dié hoenderprodusent se Kersverkope benadeel nie.
Mnr. Kevin Lovell, hoofbestuurder van die Suider-Afrikaanse Pluimveevereniging, sê hoewel talle opinieleiers hulle teen die herverpakking van hoender uitgespreek het, blyk dit uit voorlopige verkoopsyfers asof die eindverbruiker nie dié sentiment deel nie. “Dit lyk of die opinie merendeels deur ryker landsburgers gedeel word, terwyl die herverpakte hoender nie aan dié deel van die mark verkoop raak nie.”
Rapport het op 18 Desember berig hoe die genoteerde maatskappy hoenderstukke, waarvan die vervaldatum reeds verstryk het, herverwerk en herverpak voordat dit weer te koop aangebied is. Die werklike invloed van die publisiteit sal eers oor ‘n maand bepaal kan word wanneer statistiek oor hoenderverkope rugbaar word.
Supreme is ‘n vertakking van Country Bird Holdings (CBH).
Me. Tish Stewart, woordvoerder van CBH, het aan die koerant opgemerk dat dié praktyk wel toelaatbaar is, mits sekere riglyne gevolg word. “Die negatiewe publisiteit is die werk van ‘n opstokerige voormalige werker, wie se dienste op grond van klagtes oor seksuele teistering opgeskort is.”
Verkope nie geraak
Mnr. Izaak Breitenbach, besturende direkteur van Supreme, sê die publisiteit het egter nie die maatskappy se verkope benadeel nie. Inteendeel – verkope in Desember 2010 was 8% hoër as in Desember 2009 gewees. Die vorige finansiële jaar was egter stormagtig gewees. Die genoteerde maatskappy se bedryfswins vir die jaar geëindig Junie 2010 het met 35% gedaal vanaf R186,6 miljoen tot R122,2 miljoen.
Breitenbach skryf die groei in verkoopsyfers – ondanks swak publisiteit – aan goeie kliënteverhoudinge toe. “Dit is geskoei op vertroue wat deur die jare opgebou is. Talle kliënte oudit ons op ‘n gereelde basis – soms in geheim. Sulke oudits is ook in Desember gedoen en ons kliënte het gesê dat hulle die produk vertrou.”
Mnr. Theo Delport, besturende direkteur van die genoteerde Astral Foods se pluimvee-afdeling, sê dié maatskappy is nie deur die negatiewe Supreme-publisiteit benadeel nie. Astral se hoender word bemark onder die Country Fair-, Golden Fair- en Festive-handelsmerke.
“Inteendeel, ek dink dit kon ons selfs bevoordeel het. Van ons kliënte het geskakel om uit te vind of ons van die praktyk (herverpakking) gebruik maak en ons kon hulle gerusstel dat ons geen produkte herverwerk nie. Ons volg praktyke wat hoër as die wetlike vereiste is.”
Delport sê as gevolg van goeie vraag na hoender het die pryse redelik gestyg vanaf Oktober tot November.
Landbou.com het intussen van ‘n ingeligte bron verneem dat herverpakking wel volgens wet mag geskiet en dat baie ingevoerde hoender weer herverpak raak.
Lovell sê die bedryf kan dalk in die toekoms die moontlikheid bespreek dat daar op etikette aangedui moet raak indien die hoender herverpak is. “Dit is iets wat in die toekoms kan gebeur, maar sal met die regering uitgeklaar moet word. Ons sal dan veral met hoenderinvoerders moet skakel, want hulle herverpak duisende ton hoender.”
7 Januarie 2011