’n Man en ’n vrou wat in Junie vanjaar ’n plaas naby Harrismith beset het, is steeds saam met hul vee op die plaas.
Mnr. Flip Geel, ’n verteenwoordiger van Vrystaat Landbou in die distrik, sê hy het Dinsdagoggend (6 September 2011) met ’n moedelose mnr. Petrus Weyers gepraat.
“Hy sê hy het ’n uitsettingsbevel by die hof gekry waarvolgens die egpaar hul 20 beeste wat hulle op die plaas aanhou, teen 12:00 vandag moet verwyder. Dis nou net ná elf en daar is nog geen optrede nie.
"Alles lyk of dit soos normaalweg voortgaan. Hy sê hy het die polisie gebel, maar hy weet nie wanneer hulle sal optree nie,” verduidelik Geel.
Twee maande
Intussen gaan Weyers se hofsaak teen die besetters voort. Geel sê nog geen hofdatum is vir die betredingsklag vasgestel nie.
Mnr. Masiteng Petrus Sekonyela en mev. Masefefo Julia Khoete het net meer as twee maande gelede die plaas beset deur hulle vee daarop te jaag, ’n sinkhuis op te slaan en ’n blou woonwa staan te maak. Hulle het dit glo gedoen “want Julius Malema het gesê hulle moet die grond terugvat,” aldus ’n vroeëre berig in Volksblad (30 Junie 2011).
Die grond het na bewering 11 jaar gelede aan Khoete behoort, maar omdat ’n lening nie aan die Land Bank terugbetaal kon word nie, is dit op ’n veiling verkoop.
Intussen kon sers. Christopher Mophiring nie aan Landbou.com bevestig of die polisie definitief gaan optree om die besetters se beeste van die plaas te verwyder nie. “As daar so ’n bevel is, sal hulle dit seker doen.”
Landbou.com wag tans op terugvoer.
6 September 2011