’n Grondeienaar van KwaZulu-Natal het hom na die Hooggeregshof gewend omdat grondbesetters glo sy grond wil oorneem.
Luidens ’n berig op News24.com het van die besetters gesê die grond “behoort aan Malema.”
Mnr. Rusty Roodt, die grondeienaar, sê die polisie het nie opgetree ná sy klagtes dat mense besig is om sy grond te beset nie. ’n Week gelede is paaltjies in die grond ingeslaan, en die afgelope Sondag (30 Oktober 2011) is toerusting ingebring om die grond gelyk te maak.
“Ek het na my kantoor gegaan om my rekeninge en ’n lugkaart van my grond te kry om vir die mense te wys, maar hulle wou nie bes gee nie. Hulle vat net bloot my grond, so ek gaan hof toe,” aldus Roodt.
Gemeenskap
Luidens die berig is die gemeenskap van Mpumuza vas oortuig dat die grond aan hulle behoort, en dat hulle optrede nie onwettig is nie.
“Ons sit voort wat ons begin het, terwyl ons Donderdag en Vrydag (tydens die ANC-jeugliga se optog) saamgetrek het om terug te eis wat ons s’n is.”
Mnr. Sibusiso Ntuli, ’n voormalige raadslid van wyk 2 in die informele nedersetting, sê verskeie families is met geweld van die grond verwyder, en as Roodt sê die grond behoort aan hom, moet hy die titelaktes daarvoor wys.
“Ons is moeg daarvoor om te sien dat swart mense onderdruk word, want ons het al aansoek gedoen om dié grond terug te eis.”
Die polisie sê hulle wag op dokumentasie om te sien aan wie die grond behoort, en sou dit onder ’n grondeis wees, sal die saak na die Grondeisekommissie verwys word.
Verwag
Intussen sê mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, dié saak sal met die polisie opgevolg word, want dié organisasie het ’n ooreenkoms met die polisie aangegaan dat mense wat grond beset, verwyder sal word.
“En dit geld vir die hele landelike gemeenskap.”
“Ons het die geluide gehoor en het verwag dat dit een of ander tyd sal gebeur. Nou moet die landelike beveiligingsbeleid toegepas word en die polisie optree,” aldus Möller.
Bron: News24.com
31 Oktober 2011