
Die boerderyvennootskapprojek Solms-Delta by Franschhoek in die Wes-Kaap is onder besigheidsredding geplaas weens kontantvloeiprobleme wat meegebring het dat hy nie sy skuld kon betaal nie.
Mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, hou hierdie projek, waar 292 werkers van die Wijn de Caab-trust die helfte van die wynlandgoed en onderneming besit, gereeld voor as die toonbeeld van die versterking van plaaswerkers se regte.
Volgens die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming is 52 ha ten bate van die werkers vir R56 miljoen gekoop en ’n verdere R9 miljoen is ook toegestaan. Die gevestige wynboere en eienaars van die landgoed, prof. Mark Solms (Zandvliet-Delta-boerdery) en mnr. Richard Astor (Lubeck-Delta) het al jare gelede, voordat Nkwinti sy 50/50-beleid aangekondig het, aandele in die boerdery aan plaaswerkers gegee.
Omkeerstrategie
Solms het aangedui dat hulle lank reeds besluit het dat plaaswerkers van die begin af voordeel moet trek uit die ooreenkoms. Veral ten opsigte van die land se geskiedenis kan daar nie verwag word dat die werk wat hulle vandag insit eers eendag hulle kleinkinders bevoordeel nie.
Hy verduidelik dat die rede waarom hulle in Julie vir besigheidsredding aansoek gedoen het, is weens die tyd wat dit neem om die onderneming se omkeerstrategie te finaliseer. “Die probleem is dat die verkoopspan te klein is en min hulpbronne het. Daar is ook ander markverwante redes waarom ons ’n omkeerstrategie benodig.”
Die ontwikkelende omkeerstrategie neem hierdie hoogs mededingende omgewing in ag en sal die onderneming se maatskaplike suksesse as bemarkingsinstrument voorhou.
Belegging
Solms wys ook uit dat hoewel daar heelwat belangstelling van beleggers in die onderneming was, het sommige van hulle meer belanggestel om vinniger opbrengste op hulle belegging te sien. Daar is besluit om eerder met die Departement en ’n nie-kommersiële belegger, die Nasionale Bemagtigingsfonds (NEF), saam te werk wat ook werkers en boere bemagtig.
Me. Alison Timme van PricewaterhouseCoopers is aangestel as die besigheidsreddingspraktisyn. Sy het gesê die prioriteit was tot dusver om die besigheid te stabiliseer en sy oorlewing op die korttermyn te verseker, terwyl hulle die langtermynopsies oorweeg.
Al die belanghebbendes by die projek werk saam om die opsies na te gaan. “Solms-Delta se geskiedenis is baie belangrik, siende dat dit een van die plase is wat die Regering se 50/50-program vir die versterking van die regte van plaaswerkers omarm.
“Daarom is ons prioriteit daarop gerig om te fokus dat handeldryf voortgaan met ’n siening om ’n volhoubare platform te verseker waar werke behou word en maatskaplike opheffing gedy,” het Timme uitgelig.